Local sportSport

Onoorwonne Bobbies kwalifiseer maklik vir Gold Cup kwarteindrondte

Pretoria Polisie is een van die vroeë gunstelinge om vanjaar die nasionale Gold Cup rugbytoernooi vir oopklubs te wen.

Pretoria Polisie se rugbyspan het die afgelope Saterdag die ligafase van die Gold Cup toernooi onoorwonne afgesluit en daarmee maklik gekwalifiseer vir die kwarteindrondte.

Die Bobbies was heel ironies saam met drie ander Polisie spanne (Port Elizabeth, Oos Londen en Bloemfontein) in dieselfde groep geloot. Sishen was die vyfde span in hierdie groep. Nico Luus se span het hul ligaverpligtinge nie net onoorwonne afgesluit nie, maar hulle het ook volpunte op die punteleer verdien. Dit beteken dat hulle in al vier hul wedstryde ’n bonuspunt verdien het deur vier drieë te druk.

Na ’n loslootjie twee weke gelede het Pretoria Polisie Saterdag amok gemaak op Loftus Versfeld se B-veld, toe hulle Oos-Londen Polisie met 75-5 verneder het. Hulle het in die proses elf keer die doellyn oorgesteek, met die woelige flank, Ian van Deventer wat met ’n driekuns kon spog toe die eindfluitjie blaas.

Lynstaan aksie in Saterdag se Gold Cup wedstryd tussen Pretoria Polisie en Oos Londen Polisie op Loftus Versfeld se B-veld. Foto: Koos Venter
Lynstaan aksie in Saterdag se Gold Cup wedstryd tussen Pretoria Polisie en Oos Londen Polisie op Loftus Versfeld se B-veld.
Foto: Koos Venter

Pretoria Polisie het inderdaad Saterdag gelyk na ’n semi-professionele span, terwyl hul teenstanders van die Oos-Kaap duidelik nie gekondisioneer was om in hierdie belangrike kompetisie hond haaraf te kan maak nie.

Polisie se goeie vertoning tot dusver is weer ’n bevestiging dat die Blou Bulle se Carltonbeker liga vanjaar rugby van ’n baie hoë standaard opgelewer het. Die Bobbies het aanvanklik gesukkel in dié toernooi en het eers in die laaste rondte vir die halfeindstryd gekwalifiseer, terwyl hulle nie vanjaar die eindstryd kon haal nie.

Op papier is hulle egter tans die tweedebeste span in die Gold Cup toernooi. Net Rustenburg Impala kon ook daarin slaag om die ligafase met volpunte af te sluit, terwyl dié manne uit die Noordwes provinsie ook die enigste span is wat meer drieë as Pretoria Polisie kon druk. Hulle het 30 drieë in vier wedstryde gedruk, terwyl die Bobbies spog met 29 drieë.

Pretoria Polisie speel eerskomende Saterdag as voorwedstryd vir die Curriebeker halfeindstryd op Loftus Versfeld om 15:15 teen Vaslbaai (WP) in die kwarteindstryd van die Gold Cup toernooi. Die Kapenaars het tweede geëindig in Groep C.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button