Daar is hoop vir SA rugby – Ackerman
Hoewel Suid-Afrikaanse rugby ongetwyfeld ’n laagtepunt beleef het die afgelope seisoen, het Johan Ackerman, die afrigter van die Leeus en die SA ‘A’-span verlede week aan gaste by ’n ontbyt in Pretroia hoop gegee vir die toekoms.
Dit neem tyd om ’n top rugbyspan, soos die Leeus van 2016, te bou en daar is ’n hele paar faktore wat saam moet werk om ’n groep spelers in ’n wen-eenheid te omskep soos wat die Leeus tussen 2013 en 2016 gedoen het.
Dít was die boodskap van Johan Ackerman, hoofafrigter van die Leeus in Johannesburg, toe hy verlede week sowat 400 gaste tydens die Hoërskool Garsfontein se jaarlikse besigheidsontbyt toegespreek het.
Ackerman het verduidelik dat daar geen towerformule is om ’n span te bou van letterlik niks (soos in die Leeus se situasie toe hulle hul SuperRugby status in 2012 verloor het) tot Curriebeker kampioen in 2015 en deelname aan die SuperRugby eindstryd in 2016.
Volgens hom het hy en sy bestuurspan eers die strukuur gevestig en besluit dat hulle ’n span sou bou wat totale rugby kon speel. Daarna het hulle met ’n groep spelers begin werk wat deur baie “kenners” nie as eersterangse spelers beskou is nie. Die geheim was dat die kern van die groep spelers bymekaar gebly het. Hoe langer hulle dus met dié manne gewerk het, hoe minder foute het hulle gemaak, terwyl hul besluitneming in druksituasies verbeter het. Die spelers het ook kans gekry om verhoudings te bou, mekaar te vertrou en uiteindelik ook meer selfvertroue te kry.
Só, het Ackerman verduidelik, het hulle uiteindelik daarin geslaag om ’n groep spelers na wie geen ander unie twee keer wou kyk nie, saam te voeg en te brei tot ’n soliede eenheid wat top spanne uit Nieu-Seeland geklop het in hul opmars na die SuperRugby eindstryd.
Ackerman het ook eerlik en reguit gepraat met sy gehoor oor die stand van sake in Suid-Afrikaanse rugby.
Hy was baie positief oor die verloop van die besprekings by SA Rugby se indaba verlede week. Volgens hom het SA Rugby vir die eerste keer planne op die tafel om ’n hoë prestasie struktuur tot stand te bring wat sal verseker dat die land se top 45 rugbyspelers goed gekondisioneer sal word en dat ’n sentrale wedstrydplan, veral ten opsigte van verdediging, by hierdie spelers ingeoefen sal word om hul meer kompeterend op toetsvlak te maak.
Volgens Ackerman is sentrale kontraktering van die land te top spelers die enigste antwoord om Springbokrugby te red. Omdat Suid-Afrikaanse unies as gevolg van die wisselkoers nie met die buiteland kan kompeteer nie, glo hy ’n groep elite spelers moet geidentifiseer word wat dan almal goeie Springbok kontrakte sowel as provinsiale kontrakte aangebied moet word. Daardie spelers se kondisionering moet dan sentraal gekoördineer word, maar hulle moet ook beter bestuur word om nie net ter wille van geld twaalf maande van die jaar aanmekaar rugby te speel nie.
Dié gewilde afrigter het ook ’n probleem met spelers wat oorsee speel en dan steeds vir die Springbokspan in aanmerking kom. Volgens hom moet die stelsel van sentrale kontraktering dié probeeem uitskakel, omdat die Springbokspan dan hoofsaaklik uit die uitgelese groep gekies sal word. Oorsese spelers, oor wie se doen en late SA Rugby geen beheer het nie, sal dus uitgeskakel word.
“Suid-Afrikaanse rugby is by ’n keerpunt,” het Ackerman gesê, maar hy het beklemtoon dat hy steeds opgewonde is oor die toekoms. Die verandering van spelpatrone by die Leeus, Cheetahs en selfs die Blou Bulle voorspel ’n opwindende toekoms, het hy gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
