Local sportSport

Groot toekoms in motorsport wag vir vyftienjarige seun van Pretoria

Aiden Liebenberg, ’n hoërskoolseun van Pretoria, is na net vier jaar as motorfietsrenjaer vanjaar gekroon as nasionale kampioen in die strawwe KTM 390 Super Junior kampioenskapsreeks.

Suid-Afrika se nuwe KTM 390 Super Junior nasionale motorfiets kampioen is ’n 15-jarige seun van Pretoria se Moot, wat vier jaar gelede vir die eerste keer op ’n ysterperd geklim het.

Aiden Liebenberg was vanjaar ’n graad 9 leerling aan die Hoërskool Oos-Moot. As sy skoolmaats egter naweke om die atletiekbaan draf of op die rugbyveld rondhardloop, durf hy die renbane van Suid-Afrika aan op een van sy blitsvinnige motorfietse.

In 2012 het Liebenberg se pa, Wayne, wat self ’n motorsport entoesias is en op sy dag ook daaraan deelgeneem het, besluit om sy seun te leer motorfiets ry. Dit was egter nie nodig om baie moeite te doen nie, want dié jong seun het so vinnig geleer dat hy na een dag se oefening reeds na ’n kampioen begin lyk het.

Nadat die gogga gebyt het wou hy egter meer doen as om vir ontspanning te ry en die volgende jaar (2013) skryf Wayne Liebenberg sy seun in vir die NSF klas. Dié klas is algemeen bekend as die liga waar nuwelinge leer om aan die druk en toestande van motorfietswedrenne gewoond te raak.

Nog ’n jaar later was die jong Liebenberg reeds so bedrewe op sy motorfiets dat hy tweede eindig in die NSF 100 klas en hy was duidelik gereed om die volgende trappie na bo te klim.

In 2015 skryf hy op 14 jarige ouderdom in vir die 150cc en 250cc klasse, waar hy uiteindelik tweede en sewende eindig.

Vanjaar het hy vir drie ligas ingeskryf. In die 250 Cup, Kawazaki se junior streekskampioenskap, eindig hy tweede. In die Super 600 Cup (nasionale kampioenskap) jaag hy op ’n 600cc motorfiets en teen die middel van die jaar was hy voor op die nasionale puntelys. Hy word egter gediskwalifiseer toe die organiseerders uitvind dat hy op ’n tegniese punt nie oud genoeg was om volgens die reëls en regulasies van Motorsport SA in dié klas te jaag nie.

Dis egter op nasionale vlak in die KTM 390 Super Junior kampioenskap waar Liebenberg sy staal wys. In hierdie afdeling word daar op standaard motorfietse gejaag, wat die speelveld gelyk maak wat tegniese aspekte betref. Die renjaers se vermoë is dus uiters belangrik en deurslaggewend.

In hierdie kompetisie het hy landwyd aan sewe rondtes deelgeneem. Elke rondte bestaan uit twee wedrenne en Liebenberg spog uiteindelik met agt eersteplekke, drie tweedeplekke, twee derdeplekke en ’n enkele vierdeplek. Hy het so goed gevaar dat hy in die finale rondte op die Red Star baan in Delmas ná sy tweedeplek in die eerste wedren reeds genoeg gedoen het om as nasionale kampioen gekroon te word. Hy het die kampioenskap afgesluit met 305 punte, terwyl sy naaste teenstander op 235 punte geëindig het.

Volgende jaar kan Liebenberg sonder skroom deelneem aan die 600cc klas en hy wil homself daarop toespits om dié kampioenskap ook in te palm. Onthou dus maar die naam Aiden Liebenberg, want motorsport geesdriftiges gaan nog baie van dié talentvolle jong seun hoor.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button