Ouma van Pretoria stel nuwe wêreldrekord op in 20km stap
Pretoria se Elsa Meyer het by die onlangse wêreldkampioenskap vir meesters atletiek nie net drie goue medaljes verower nie, maar ook ‘n nuwe wêreldrekord opgestel.
Ná al die hoogtepunte en die media se opgewondenheid oor die prestasies van Suid-Afrika se top sportmanne en -vroue by vanjaar se Olimpiese Spele, het die onlangse deelname van die land se meesters atlete aan die wêreldkampioenskap in Australië byna ongesiens verbygegaan.
Die gevolg daarvan was ook dat die briljante prestasies van Elsa Meyer, ’n 70-jarige ouma van Pretoria, nie die erkenning gekry het wat dit verdien nie.
Meyer het by dié wêreldkampioenskap drie goue medaljes vir Suid-Afrika ingepalm toe sy die 5km, 10km en 20km stap items in die ouderdomsgroep 70-74 jaar gewen het. Die kersie op die koek was haar nuwe wêreldrekord in die 20km, waar sy die vorige wêreldrekord met 89 sekondes (byna ’n minuut en ’n half) verbeter het. Sy het dié afstand in 2:10:58 afgelê.
Sport is in dié fikse vrou se bloed sedert haar skooldae aan die Hoërskool Pretoria-Wes. Op skool het sy uitgeblink in atletiek (veral spiesgooi), korfbal en sagtebal. Sy het destdys Noord-Transvaal kleure in albei laasgenoemde sportsoorte behaal, terwyl sy sedert standerd agt die kaptein van die skool se eerste korfbalsan was.
Na skool het sy aangehou met sagtebal tot na die geboorte van haar derde kind. Sy kon steeds nie stilsit nie en was daarna ’n ywerige deelnemer aan aerobiese dans om aktief te bly.
In 1996 het sy vir ontspanning begin stap, maar baie gou het die gogga gebyt en sy het kort voor lank vir haar eerste wedloop ingeskryf. Daardie dag het sy agtste geëindig onder al die dames en sy het besluit om by ’n klub aan te sluit en dié sport ernstiger op te neem. Toe begin die prestasies instroom.
Nadat dit duidelik geword het dat Meyer die vermoë het om as stapper met die bestes te kompeteer het ’n vriend haar uitgenooi om by meesters atletiek betrokke te raak. Dié omgewing was nie vir haar heeltemal vreemd nie, aangesien die legendariese Springbok, wyle Lena Grobler, wat nasionale kleure as senior én meesters atleet verwerf het, haar tante was.
In 2005 verwerf Meyer die eerste keer nasionale kleure in die 5km en 10km stap items en sy wen haar eerste medalje op ’n wêreldkampioenskap. Dit was silwer in die 5km stap in Spanje.
Daarna het sy net al hoe beter geword en die rekords het begin spat. Eers het sy Atletiek Gauteng-Noord se rekords in die 5km, 10km en 20km stap items vir vroue tussen 60 en 64 opgestel. Toe sy 65 word het sy ook in die ouderdomsgroep 65-69 al drie die items se rekords haar eie gemaak. Die afgelope jaar het sy dieselfde gedoen vir die ouderdomsgroep 70-74. Intussen het sy ook die houer van die Suid-Afrikaanse rekords geword in al drie hierdie items.
In 2009 het sy Suid-Afrika weer verteenwoordig by die wêreld kampioenskap en met goud vir die 20km stap en silwer vir die 10km stap teruggekom. Vanjaar was dit drie keer goud én die wêreldrekord.
Meyer is besonder gedissiplineerd en oefen steeds twee keer per dag. Tussendeur het sy nog genoeg tyd vir haar ander stokperdjie, naaldwerk. Sy doen dit steeds op kommersiële vlak en spesialiseer veral in die maak van trourokke. Sy en haar man, ’n ywerige voëlboer en afgetrede amptenaar van die Tshwane stadsraad, woon al 40 jaar in Capital Park, waar sy ’n bekende stapper in die strate is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




