Local sportSport

Jong Tukkie breek persepsies oor rolbal

Hoewel Ernst Wagner net 19 jaar oud is word hy reeds beskou as een van Suid-Afrika se mees belowende rolbalspelers.

Daar is heelwat grappies oor die baie gewilde sportsoort, rolbal. Dit word soms “oumens-albasters” of “die gevaarlikste sport” genoem. Jong rolbal sterre soos Ernst Wagner van Pretoria breek egter hierdie persepsies oor hul gunsteling sport stadig maar seker af.

Wagner (19) word beskou as een van Suid-Afrika se mees belowende jong rolbalspelers. Dié oud leerling van die Doxa Deo skool in Pretoria-Oos was vanjaar nog die kaptein van die Gauteng-Noord o.19 span wat die nasionale kampioenskap gewen het. Trouens, dié span was onoorwonne regdeur die seisoen.

Hy het op 13-jarige ouderdom die eerste keer met rolbal te doen gekry, maar na ’n seisoen waarin hy goed gevorder het, het krieket hom te besig gehou en hy het sy rolbalspelery effens verwaarloos.

As krieketspeler het hy ook groot belofte getoon. Hy was vir twee seisoene agtereenvolgens sy skool se eerstespan kaptein en hy is in sy hoërskool loopbaan ook twee keer aangewys as krieketspeler van die jaar.

Ook as tennisspeler is hy in sy matriekjaar as die skool se speler van die jaar aangewys. Hierdie feite bewys dus dié jongman se veelsydigheid, maar sedert hy vanjaar as student by Tukkies ingeskryf het, het hy besluit dat sy toekoms as sportman op die rolbalbaan is.

Nadat hy as laerskoolseun aan rolbal bekendgestel is het die gogga reeds gebyt en hoewel krieket en tennis baie van sy tyd in beslag geneem het, het Wagner op 15-jarige ouderdom teruggekeer na die rolbalbaan. Sedertdien het sy spel soveel verbeter dat hy Gauteng-Noord se junior span na glorie kon lei in die nasionale kampioenskap.

Hy is selfs al gekies om saam met die land se mees belowende spelers vir ’n uitnodigingspan aan die nasionale meesters kampioenskappe deel te neem en daar kon hy sy vernuf toets teen die beste senior spelers in die land.

Wagner het beslis nog groot drome vir sy loopbaan as rolbalspeler. Hoewel sy studies in die aktuariële wetenskap by Tukkies hom baie besig hou, maak hy deesdae tyd om op die rolbalbaan te kom. Dis nie net ontspannend te midde van sy moeilike kursus op universiteit nie, maar hy werk ook hard aan sy spel om sy toekomstige doelwitte as senior speler te verwesenlik. Hy droom van nasionale kleure as senior speler, ’n titel in die Suid-Afrikaanese meesterstoernooi en selfs deelname aan die Statebondspele.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Check Also
Close
Back to top button