Jong Pretorianer is land se beste op die tennisbaan
Suid-Afrika se beste o.12 meisie-tennisspeler is ’n blondekop Pretorianer van TuksTennis wat groot drome het vir die toekoms.
Dit gaan tans besonder goed met junior tennis in Gauteng-Noord en een van die bewyse hiervoor is dat Carlé Botha van TuksTennis deesdae die land se heel beste o.12 meisie-tennisspeler is.
Botha is vanjaar ’n graad ses leerling aan Laerskool Die Poort. Reeds as tweejarige dogtertjie het sy die eerste keer ’n tennisraket opgetel en net daar het die gogga haar gebyt. Sedertdien speel sy kookwater tennis en haar oorwinning in Desember verlede jaar in die WP Slazenger Classic toernooi op Rondebosch was in meer as een opsig ’n hoogtepunt. Nadat sy dié toernooi gewen het, het dit haar genoeg punte op die nasionale junior ranglys besorg om amptelik nou die land se beste o.12 speler te wees.
Sy tel al lank onder die bestes in haar ouderdomsgroep en het aan die begin van 2016 deurgebreek tot die top tien. Hoewel sy en haar familie baie trots is op hierdie prestasie, is Botha teen hierdie tyd gewoond aan toekennings en pryse. Sy spog met handevol trofeë en medaljes wat getuig van haar prestasies op die tennisbaan, terwyl sy al twee keer ook haar skool se tennisspeler van die jaar was. Hoewel sy nou eers in graad ses is, speel sy lankal vir die skool se eerstespan.
Botha woon saam met haar gesin in die noordoorste van die stad op die Pebble Rock gholflandgoed, maar die beplanning is dat sy oor twee jaar haar hoërskoolloopbaan sal voortsit aan ’n skool waar haar tennis verder kan groei. Waar dit sal wees het hy en haar ouers nog nie besluit nie. Sy is egter betrokke by TuksTennis, waar sy deur top afrigters soos Kelvin de Wet afgerig word.
Tennis oorheers egter nie dié vriendelike meisie se lewe nie. Sy speel ook netbal, terwyl haar akademiese prestasie gladnie agterweë gelaat word nie. Dié jong tennisster het verlede jaar in graad vyf ’n gemiddeld van meer as 80% in al haar vakke gehandhaaf. Sy glo juis dat sy waarskynlik na skool in “iets wat met syfers te doen het” sal studeer, terwyl sy steeds wil aanhou tennis speel.
As sy nie op die sportveld of agter die boeke is nie, geniet Botha dit om te brei. Sy speel ook graag tennis saam met haar pa, wat self ’n skaflike klubspeler is. Kleinsus Amike (10) het ook reeds Gauteng-Noord kleure vir tennis ontvang.
Botha het ’n baie interessante stokperdjie. Tussen al haar tennis aandenkings vind ’n mens ook ’n interessante klomp kleurvolle merkers wat deur gholfspelers gebruik word. Sy vertel dat sy dié merkers begin versamel het, omdat baie van die toernooie waaraan sy deelneem op die bane van buiteklubs gespeel word.
Hoe lyk die toekoms vir Carlé Botha? Hieroor droom sy groot. Haar onmiddelike doelwit is om vanjaar nog junior nasionale kleure te kry en natuurlik wil sy graag eendag senior nasionale kleuere verdien en haar land in die Federasiebeker verteenwoordig. Maar haar grootste droom is om eendag die trofee te lig as kampioen op Wimbledon, net soos haar heldin, Maria Sharapova.
Wie weet, dalk sien ons dié jong ster se vriendelike glimlag oor ’n paar jaar wel op die bekende bane van die wêreld as sy kishoue slaan teen die bestes.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

