Bulls moet dringend selfvertroue herwin
Terwyl die Bulls ernstige probleme in die gesig staar as hulle nie vinnig ’n paar kernprobleme in hul span oplos nie, het die Lions weer gewys hoe speel ’n gelukkige span vol selfvertroue
Ja, daar was seker een of twee ligpunte om oor positief te raak vir Bulls ondersteuners, maar as Nollis Marais se span nie drasties hul spelpeil verbeter nie, gaan die 2017 seissoen baie lank raak vir hulle.
Die aspsek van die Bulls se spel wat ondersteuners die meeste bekommer is hul gebrek aan toewyding, veral in die eerste helftes van beide die afgelope twee naweke se wedstryde teen onderskeidelik die Stormers en die Cheetahs.
Swak verdediging is een van die sekerste tekens dat daar ’n probleem is op die gebied van toewyding en dit moet gesê word dat daar ’n paar skokkende pogings was op die verdediging in Bloemfontein. Die wyse waarop die tuisspan die Bulls soms soos gekke laat lyk het as hulle met vinnige besit kruis en dwars oor die veld aangeval het, het groot frustarasie by baie ondersteuners tot gevolg gehad. Sommer binne die eerste drie minute met Clinton Swart se drie is die Bulls se halfhartige verdediging reeds uitgebuit. Die feit dat Swart ’n paar meter voor die doellyn gestruikel het en steeds kon opstaan om Jesse Kriel met gemak te klop, was onaanvaarbaar. ’n Paar minute later is Kriel, ’n Springbok agterspeler, deur ’n groot losvoorspeler (Oupa Mohoje) geklop in ’n man-tot-man situasie. Weereens totaal onaanvaarbaar op hierdie vlak. Die Cheetahs se vierde drie het gekom nadat ’n vleuel (Rayno Benjamin) vir Jacques Potgieter met minagting afgestamp het om die gaping te skep vir die Cheetahs se twee flanke om af te rond.
Die Bulls se twee flanke het vir ’n tweede week agtereenvolgens byna geen invloed op die wedstryd gehad nie. En hierdie keer het die lynstane gelol, terwyl hulle darem beter geskrum het as verlede week teen die Stormers. Die Cheetahs het een van hul drieë gaan druk vanaf lynstaanbesit wat hulle op die Bulls se ingooi afgeneem het.
Saam met die twee flanke was skrumskakel Rudy Paige een van die groot swak skakels vir die Bulls. Piet van Zyl moet beslis nou in die binnebaan wees om die beginspan te haal, nadat hy twee weke na mekaar ’n reuse verskil gemaak het aan die Bulls se aanslag as hy telkens vir Paige vervang het.
Miskien is dit tyd dat die Bulls weer ’n goeie kopdokter nader trek, want as hierdie gebrek aan toewyding voortduur gaan Loftus Versfeld ’n eensame plek word vanjaar.
Rohan gryp die verbeelding aan op Ellispark
Die gewese Bloubul o.21 ster en oud leerling van Hoërskool Waterkloof, Rohan Janse van Rensburg, groei intussen steeds is statuur by die Lions in Johannesburg. Hy het die afgelope naweek onder bitter moeilike omstandighede uitgeblink en twee van die Lions se agt drieë gedruk teen die Waratahs van Australië.
Janse van Rensburg het besluit om wel te speel, nadat die Lions se bestuurspan die besluit aan hom oorgelaat het. Sy ma is Woensdag verlede week oorlede, maar Janse van Rensburg het besluit om die wedstryd aan haar op te dra.
Die Lions het gewys watter verskil selfvertroue en toewyding maak. Hulle het, veral in die eerste helfte, self ’n paar foute op die verdediging gemaak, maar die wyse waarop hulle eenvoudig elke keer beter teruggekom het, getuig van ’n span wat in homself glo en wat selfvertroue het weens puik afrigting.
Ironies genoeg het die Lions Saterdag weer opgedraf met ’n span waarin agt spelers teenwoordig was wat almal op een of ander stadium as nie goed genoeg geag is in Pretoria nie. Nog twee van die Lions se reserwes is ook gewese Bloubul-weeskinders.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

