Local sportSport

Carltonbeker toernooi begin op hoë noot

Die kwaliteit van rugby in vanjaar se Carltonbeker liga is die afgelope naweek reeds in week een van die toernooi bevestig met drie klipharde wedstryde.

Die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker klubtoernooi het hierdie naweek afgeskop en, soos vooraf verwag is, het die eerste rondte reeds kwaliteit rugby opgelewer.

Drie taai tweestryde is afgehandel en uit die uitslae is dit duidelik dat vanjaar se toernooi vir ’n paar baie interessante maande se klipharde rugby gaan sorg.

* Die verdedigende kampioen, Centurion, het sommer vroeg gewys dat hulle nie van plan is om maklik van hul troon afgestamp te word nie.

Riaan Brandt se manne het Pretoria-Noord toe gereis om die Dragons daar op hul tuisveld aan te vat waar laasgenoemde verlede seisoen nie geklop kon word nie. Centurion het egter die seisoen met ’n bonuspunt-oorwinning begin toe hulle vier drieë kon druk om die Dragons met 34-19 te klop.

Die telling kon selfs groter gewees het, want losskakel Steven Moir kon net een van die drie drieë verdoel.

Ou staatmakers soos Juan Pike, Albert Bakker en Curtley Brinkhuis het getel onder die driedrukkers van Centurion.

Die Dragons kan egter nie nou reeds afgeskryf word nie. Hulle het self goeie rugby gespeel en sal beslis nog ’n span wees waarmeer rekening gehou moet word vanjaar.

* Tukkies het oudergewoonte net enkele van sy Varsitybeker sterre behou vir die Carltonbeker toernooi, maar dié klub het sommer vroeg gewys dat hulle vanjaar die beker wil terugvat na hul klubhuis op die LC de Villiers sportkampus, waar hy die afgelope tien jaar meer as op enige ander plek gestaan het.

Tuks het ses keer agter die doellyn gaan kuier tydens hul wedstryd teen die nuwe Quins-Bobbies en daarmee het hulle dus ook ’n bonuspunt oorwinning van 45-30 behaal.

Tuks se hardwerkende flank, Frederik Eksteen, het twee van die ses drieë gaan druk en die Reynolds broers, Theuns (haker) en Abri (heelagter) het albei ook tot Tuks se punte bygedra. Theuns was een van die driedrukkers, terwyl Abri 15 punte aangeteken het met sy gevaarlike skopskoen.

Quins-Bobbies het self bygedra om van die wedstryd ’n skouspel te maak. Hulle het drie keer gaan druk, terwyl heelagter Morné Hugo die res van die punte met doelskoppe en strafdoele aangeteken het.

* In Meyerstraat in die Moot het Rustenburg Impala wraak geneem teen Naka Bulle, wat hulle vroeër hierdie seisoen in die halfeindstryd van die Assupol Toernooi geklop het. Net soos daardie wedstryd verlede maand was dit weer ’n spannende stryd wat ook weer met net twee punte verskil geëindig het toe Impala met 20-18 as oorwinnaars van die veld gestap het.

Impala het drie keer gaan druk, terwyl Naka Bulle slegs twee keer agter die doellyn kon gaan kuier.

Daar was egter bittermin te kies tussen die spanne en net soos in die Assupol toernooi kon enige van die twee die wedstryd gewen het. Dit was uiteindelik Impala wat die oorwinning met ’n strafdoel in die doodsnikke beklink het.

* As gevolg van die langnaweek, asook die naweek se skolerugby sal Naka Bulle en Tuks eerskomende Woensdag teen mekaar speel as deel van week twee se bepalings. Die wedstryd vind in die TuksStadion plaas. Centurion ontvang hierdie week vir Rustenburg Impala, terwyl Dragons weer tuis sal speel teen Quins-Bobbies.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button