Nuwe tuiste vir Wally Hayward marathon
Die bekende en gewilde Wally Hayward marathon vind weer op 1 Mei in Centurion plaas.
Alpha Centurion Runners & Walkers (ACRW) bied vanjaar op 1 Mei vir die 41 ste keer die baie gewilde Wally Hayward marathon aan.
Dié standaard marathon (42.2km) word ter ere van die legendariese vyfmalige wenner van die Comrades ultra-marathon aangebied en dit word ook algeheel beskou as die laaste geleentheid vir atlete in Gauteng om vir die Comrades te kwalifiseer.
Hoewel Hayward Suid-Afrika by die Olimpiese Spele vereenwoordig het en rekords in talle ultra-afstande opgestel het, word hy veral onthou vir sy merkwaardige prestasies in die Comrades marathon. Sy loopbaan as padatleet het oor ses dekades gestrek en hy het die Comrades op 80-jarige ouderdom die laaste keer suksesvol voltooi.
Die wedloop kry vanjaar ook ’n nuwe tuiste, nadat deelnemers aan dié marathon vir baie jare op die terrein van die Hoërskool Zwartkop weggespring en klaargemaak het. Die Lewende Woord Kerk in Centurion, wat slegs 300m van Hoërskool Zwartkop geleë is, sal vanjaar as nuwe tuiste van die wedloop dien. Daar is volop parkering by die kerkterrein, asook by die terrein van die Boeremark oorkant die kerktrrein op die hoek van Lyttelton- en Fairviewstrate in Centurion. Deelnemers word nogtans versoek om vroeg op te daag om sodoende moontlike verkeersprobleme te vermy.
Die Wally Hayward Marathon bied aan atlete, afhangende van hulle fiksheidsgraad, ’n keuse van vyf verskillende items om aan deel te neem. Die hoof wedloop is die standaard marathon van 42.2km. Dié marathon is ’n dubbelroete van die 21.1km halfmarathon. Daar is ook ’n 10km wedloop vir die minder ernstige atlete, terwyl ’n 5km pretdraf ook weer aangebied word. ’n Wedloop van 1km vir kinders word op die kerk se terrein aangebied.
Die 42.2km en die 21.1km wedlope begin om 06:30, gevolg deur die 10km om 06:40 en die 5km om 07:00, terwyl die kleinspan om 09:00 die 1km aandurf.
Hierdie marathon se roete vleg deur die boomryke strate van verskeie voorstede in Centurion, wat Hennopspark, Bronberrick, Clubview en Zwartkop insluit.
Elke atleet wat een van die wedlope voltooi sal met ’n medalje beloon word. Daar is ook talle gelukspryse en verrassings by die eindpunt, terwyl die hoofborg, MIWay, ’n addisionele bedrag van R50 000 geskenk het wat onder die wenners van die marathon, halfmarathon en 10km wedloop verdeel sal word.
Stalletjies met kos, koeldrank en koffie sal beskikbaar wees, asook uitstallings van verskeie instansies. Ouers kan hulle kinders by die speelarea los terwyl hulle aan die wedloop deelneem. Die area sal onder die toesig van verantwoordelike en opgeleide helpers wees.
Vyf verskillende welsynsorganisasies sal vanjaar baatvind by die Wally Hayward marathon.
Inskrywings kan gedoen word by www.active.com of by verskeie takke van Sportsmans Warehouse, Sweatshops, Running Inn en Runners Store. Volledige inligting is op die klub se webwerf www.wally.co.za bekikbaar.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

