Local sportSport

Naka Bulle breek lang droogte teen Tuks

Na net twee weke van Carltonbeker aksie is slegs die verdedigende kampioen, Centurion, steeds onoorwonne.

Week twee van vanjaar se Carltonbeker toernooi het weer bevestig dat die liefhebbers van klubrugby vanjaar kan uitsien na ’n besondere seisoen.

Al drie die wedstryde in week twee van vanjaar se toernooi het in eie reg ’n aantekening in die geskiedenisboeke verdien.

* Die grootste rimpeling in die klubrugby gemeenskap is beslis gemaak deur die oorwinning van Naka Bulle oor Tukkies. Die manne van die Moot het ’n droogte van byna 12 jaar teen die studente verbreek toe hulle die Varsitybeker kampioen Woensdagaand in die Tuks Rugbystadion met 34-10 geklop het.

Naka Bulle se vorige oorwinning teen Tuks was op 4 Augustus 2005. Hulle het sedertdien soms naelskraapse nederlae gely en soms ordentlik pak gekry teen die studente. Verlede seisoen was die twee klubs in twee klipharde wedstryde betrokke in die ligafase. Albei dié wedstryde is deur Tuks gewen. In die halfeindstryd het Tuks amok gemaak deur met 60-14 te wen, maar hulle is die daaropvolgende week gediskwalifiseer weens ’n oortreding van die kompetisie-reëls en Naka Bulle het uiteindelik in die eindstryd gespeel, waar hulle in ’n klipharde stryd deur Centurion geklop is.

Daar was dus ’n gees van afwagting voor verlede Woensdag se herontmoeting tussen die twee spanne, maar Naka Bulle het gewys hoeveel hulle gevorder het met hul missie om die eerste keer in hul bestaan van twee dekades die Carltonbeker te wen, nadat hulle vroeër hierdie seisoen as kampioen in die Assupol Klubreeks gekroon is.

Sylvester Booysen en sy manne het Tukkies voorlangs verras met skitter spel en hulle het basies alle fasette in die wedstryd oorheers. Hulle het boonop ’n bonuspunt oorwinning behaal deur vier drieë te druk, terwyl Tukkies net een keer die doellyn kon bereik. Die totale rugby wat Naka Bulle opgedis het word onderstreep deur die feit dat hul twee vleuels, Marcel Human (2) en Frans Botha (2) al die drieë gedruk het.

Om by te dra tot Tukkies se teëspoed is hul skitterende heelagter, WJ Strydom, in die tweede helfte met ’n rooikaart afgestuur na ’n onwettige hoogvat op een van sy teenstanders. Dit het beslis die tuisspan se gebruiklike sterk eindpoging gestrem.

Naka Bulle se oorwinning word nog meer merkwaardig as in ag geneem word dat twee van hul staatmakers, Alec Mhlanga & Anton Beswick aan die wedstryd moes onttrek nadat hulle vroeër op die dag van die wedstryd in ’n motorongeluk betrokke was.

* Die kragmeting tussen Centurion en Rustenburg Impala op eersgenoemde se tuisveld was ook besonders, aangesien dit ’n stryd tussen die verdedigende Carltonbeker kampioen en die huidige Gouebeker nasionale klubkampioen was.

Centurion het hierdie klipharde tweestryd uiteindelik met 31-22 gewen. Albei spanne het drie keer gaan druk, maar Steven Moir se dodelike skopskoen het die telbord aan die rol gehou vir Centurion.

Dit was ’n stryd van twee helftes, met Impala wat die eerste helfte oorheers het en teen rustyd met 17-11 voorgeloop het.

Die tuisspan het egter in die tweede helfte beter begin speel en die keerpunt in die wedstryd het gekom toe hulle twee keer binne vyf minute gaan druk het kort na rustyd. Dit was veral die puik drie waarmee die vlugvoetige vleuel van Centurion, Edmar Marais, ’n skitterende beweging van sowat 75 meter afgerond het, wat Impala se momentum finaal gebreek het. Na dié drie was die besoekers onder druk op die telbord. Hulle het meer foute begin maak en hul dissipline het ook verswak, wat aan Moir die geleentheid gegee het om sy span se voorsprong te konsolideer.

* In Pretoria-Noord het die nuwe klub, Quins-Bobbies hul eie stukkie geskiedenis gemaak deur hul eerste oorwinning in die Carltonbeker toernooi te behaal toe hulle die Dragons redelik maklik met 45-15 geklop het.

Hoewel die tuisspan goed begin het, het hulle ’n paar sagte oomblikke op die verdediging gehad in die eerste helfte, wat hulle uiteindelik duur te staan gekom het. Quins-Bobbies se regtervleuel, CJ de Villiers het na net vyf minute reeds agter die pale gaan kuier, terwyl die veteraan skrumskakel, Hendrik van der Nest, twee keer in die eerste helfte deurgeglip het om aan die besoekers ’n voorsprong van 19-3 te gee teen rustyd.

Die Dragons moet krediet kry vir die feit dat hulle nooit ophou veg het nie. Hulle het trouens die eerste twintig minute van die tweede helfte oorheers en twee keer gaan druk, maar dié span se fiksheid is duidelik nog nie op peil nie. Toe Quins-Bobbies die tempo van die wedstryd in die laaste kwart begin opjaag, kon die Dragons nie byhou nie. Die besoekers se twee vleuels, Dries du Plooy en Jacques Erasmus (2), het drie keer gaan druk in die laaste tien minute, wat die oorwinning beklik het.

Die Dragons is die enigste span wat nog nie ’n wedstryd kon wen nie, maar hulle moet beslis nie nou reeds afgeskryf word nie. Dié span is goed gebalanseerd en beskik oor baie talent. Hulle kan nog enige van die ander spanne wen as hulle eers behoorlik wedstrydfiks is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button