Bekende rugby-administrateur van Pretoria skielik oorlede
Een van Pretoria se bekendste en mees geliefde rugby-administrateurs is Donderdag onverwags oorlede na ’n kort siekbed.
Die rugbygemeenskap van Pretoria is Donderdag-oggend in rou gedompel toe die skoknuus van die dood van die Hoof Uitvoerende Beampte van die Internasionale Rugby Instituut, wat gesetel is by die Naka Bulle Rugbyklub, bekend geword het is.
Neels Grobler (48) is sowat ’n week voor sy dood in die Steve Biko hospitaal opgeneem ná komplikasies weens ’n abses in sy lies, wat vererger is deur ’n aggressiewe bakterie. Ná verskeie operasies het sy algehele gesondheid verder versleg. Nierstuipe is daarna gediagnoseer en Grobler is ’n paar dae later oorlede.
Grobler het reeds as student as leier en rugbyspeler uitgestaan. Hy was voorsitter van die Studenteraad by die destydse Normaalkollege van Pretoria (NKP), terwyl hy ook Carltonbeker rugby gespeel het. Hy het as junior ook vir die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) uitgedraf en later in sy loopbaan het hy vir die gewese Oos-Transvaal (deesdae die Valke) gespeel.
As onderwyser by die Hoërskool Hendrik Verwoerd het hy sy loopbaan af afrigter en administrateur begin. In 2001 was Grobler betrokke by die totstandkoming van die Tuks Rugby-akademie, wat later met die Blou Bulle se akademie saamgesmelt het.
By hierdie akademie het Grobler byna legendariese status bereik, nie net as administrateur nie, maar ook as rugbykenner wat talent kon ontgin. Verskeie spelers wat nie as skoolseuns Cravenweek rugby gespeel het nie, het onder Grobler se leiding via die Tuks Akademie ’n kans gekry om naam te maak in die junior spanne van unies soos die Blou Bulle, Pumas en Valke, waarna hulle deurgebreek het en uiteindelik SuperRugby gespeel het. Enkeles het selfs op internasionale vlak deurbrake gemaak. Onder hierdie spelers tel name soos Franco Morstert (Lions en Springbokke), Torsten van Jaarsveld (Cheetahs en 11 toetse vir Namibië), JW Bell (Lions) en Johan van Heerden (Baia Mare en 16 toetse vir Romenië).
In 2015 verlaat Grobler Tukkies en stig saam met sy vriend, Marinus van der Wath, die Internasionale Rugby Instituut, wat in die Moot van Pretoria gesetel is. Dié instituut het byna onmiddelik ’n invloed op die Naka Bulle Rugbyklub se spanne gehad. Behalwe vir die prestasies van die Carltonbekerspan, wat verlede jaarin dié kompetisie se eindstryd gespeel het en vroeër vanjaar as kampioen in die Assupol Klubreeks gekroon is, het die junior spanne van Naka Bulle drasties verbeter en selfs ook titels begin wen.
Dié gewilde en geliefde rugbyman was die afgelope drie jaar ook die bestuurder van die Limpopo Blou Bulle se o.21 span. Hy is verlede jaar deur die Blou Bulle Rugby-Unie vereer as Spanbestuurder van die Jaar.
Grobler word oorleef deur sy vrou, Madga, en vier kinders. Hy sal op Vrydag 12 Mei begrawe word. Meer besonderhede oor die begrafnis sal later bekend gemaak word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

