Crusaders vermorsel hulpelose Bulls op Loftus
Bulls-rugby is Saterdagmiddag in ’n krisis gedompel toe hulle amptelik hul grootste nederlaag ooit in SupeRugby in ’n tuiswedstryd op Loftus Versfeld gely het.
Die Bulls het ’n reuse toets gedop en hul 2017 SuperRugby seisoen het Saterdag middag amptelik krisis status bereik toe die Crusaders hulle met 62-24 verniel het.
Na ’n week van baie praatjies in Pretoria was daar ’n gees van afwagting voor die afskop van hierdie wedstryd. Die Bulls is immers die een Suid-Afrikaanse span wat die Crusaders die afgelope dekade gereeld kon klop.
Die Bulls het ook direk na die afskop met mening ingeklim en dit was duidelik dat hulle die Nieu-Seelanders fisiek wou aanvat.
Dit het die besoekers egter net vier minute geneem om die Bulls en hul ondersteuners wreed te ontnugter. Die Bulls het gevorder tot tien meter van die doellyn, maar toe keer die Crusaders die besit met groot gemak om en begin aanval. Dié beweging het tagtig meter verder in ’n drie vir flank Pete Samu geëindig.
Daarvandaan was dit dieselfde storie oor en oor. Die Bulls het hul bes probeer en telkens hard gewerk om naby hul doellyn te kom. Dan neem die Crusaders eenvoudig die bal af, laat dit met groot akkuraatheid deur die hande vloei en eindig uiteindelik agter die doellyn – vyf keer voor rustyd alleen.
Teen die tyd dat die spelers kon water drink was die wedstryd reeds in die sakkie vir die manne uit Christchurch. Hulle was met 31-3 voor en sommige van die hulpelose Bulls se ondersteuners het reeds koers gekies na hul motors om huis toe te gaan.
Die tweede helfte het vir die Bulls effens beter verloop in terme van hul eie telling, aangesien hulle darem daarin kon slaag om drie keer self agter die doellyn te kuier.
Ongelukkig vir Nollis Marais se manne was hul balretensie en verdediging in die laaste veertig minute net so swak soos in die eerste skof en die Nieu-Seelanders het self weer vyf keer gaan druk. Dié manne het dit soms verspot maklik laat lyk om die Bulls se verdediging te klop. Die groot verskil tussen die twee spanne was egter die Bulls se onvermoë om besit te behou en die wyse waarop hul teenstanders omgekeerde besit gebruik het om drieë te druk.
Vir die Bulls was hierdie wedstryd ’n waterskeidings oomblik. Hul seisoen raak nie makliker nie, want volgende week kom die Highlanders kuier. Die druk word ondraaglik en iewers moet iets meegee. Verwag dus ’n week van drama rondom Loftus Versfeld.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 24 Drieë: Jesse Kriel, Jamba Ulengu, Jan Serfontein. Doelskoppe: Francois Brummer (3) Strafdoele: Tian Schoeman (1).
CRUSADERS: 62 Drieë: Pete Samu, Tim Bateman, Scot Barett, Jack Goodue (2), Seta Tamanivalu, David Havili, Richie Mo’unga, Andrew Makalio, Mitchell Hunt. Doelskoppe: Richie Mo’unga (5), Mitchell Hunt (1).
Skeidsregter: Nic Berry
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram






















