Local sportSport

Centurion verloor ook onoorwonne status in Carltonliga

Die aksie in die afgelope naweek se Carltonbeker wedstryde het weer gewys dat 2017 een van die beste seisoene in jare vir klubrugby in Pretoria kan wees.

Na net drie weke is daar geen onoorwonne span oor in vanjaar se Carltonbeker toernooi nie.

Daar is voorheen reeds berig oor die nuwe lewe wat vanjaar se krag-teen-krag situasie in hierdie gesogte liga geblaas het en die afgelope naweek se aksie was geen uitsondering nie.  Die verdedigende kampioen, Centurion, was na twee weke die enigste onoorwonne span, maar hulle het dié status die afgelope naweek verloor.  Intussen het al drie die afgelope naweek se uitslae opnuut bewys dat enige van die ses spanne in die liga nog vanjaar die beker kan lig.

* Tukkies is terug op die wenpad na hul nederlaag teen Naka Bulle verlede week. Hulle het die verdedigende kampioen, Centurion, se onoorwonne rekord beëindig, deur hulle in Centurion met 30-25 te klop.

Hoewel hierdie wedstryd na enige kant toe kon swaai, het Tukkies waarskynlik hul oorwinning verdien. Die studente het nie in hul dop gekruip nie en aanvallende rugby gespeel. Hiervoor is hulle met ’n bonuspunt-oorwinning beloon, nadat hulle vier keer gaan druk het.

Tukkies se Varsitybeker ster, Dewald Naudé, het op vleuel sy vernuf op die aanval gewys en twee van sy span se drieë gedruk.  Op haker het Theuns Reynolds die veld vol gespeel en hy is ook met twee kuiers agter die doellyn beloon.

Centurion se voorspelers het oudergewoonte nie vir Tukkies teruggestaan nie. Hul kragspel voorlangs en die effek van hul sterk baldraers word onderstreep deur die feit dat hul twee stutte, Juan Pike en Nico van den Heever, verantwoordelik was vir twee van hul drie drieë. Divan Nel het ook weer agter die skrum uitgeblink en hy het die manne uit die suide se derde drie gedruk.

* In Groenkloof het Quins-Bobbies die manne van Naka Bulle terug gebring aarde toe ná hul puik vertoning verlede week teen Tukkies. Quins-Bobbies het drie drieë teen die besoekers se een gedruk om uiteindelik met 32-10 te wen.

Teen rustyd was sake nog redelik gelyk met die tuisspan was slegs drie punte voor Naka Bulle was. Die nuwelinge in die toernooi het egter hul krag gewys in die tweede helfte en 19 onbeantwoorde punte aangeteken om redelik maklik te wen.

Naka Bulle het hulself beslis geen guns gedoen met al die foute wat hulle begaan het, sowel as ongedissiplineerde spel wat hulle twee geelkaarte gekos het nie. Daarbenewens het hulle beslis ook die invloed van beseerde staatmakers soos Luga van Biljon, Gerhard du Preez, Dilan du Buison en Dirk Dippenaar gemis.

Jan-Hendrik Bosman, agtsteman van Quins-Bobbies se naam moet beslis genoem word. Dié woelige speler is besig om naam te maak vir homself en hy speel weekliks puik rugby, terwyl die veteraan skrumskakel, Hendrik van der Nest, steeds ’n reuse rol speel in sy span se sukses.

* Impala het ook weer op die wenpad gekom deur die Dragons met 31-19 te klop.
Net soos verlede week het die Dragons se onvermoë om vir 80 minute die pas vol te hou teen hulle getel en Impala het die oorwinning in die tweede helfte beklink. Teen rustyd het die manne uit die noorde van Pretoria nog met 12-7 voorgeloop. In die tweede helfte het Impala die krane egter oopgedraai en nog vier drieë by hul een uit die eerste helfte gevoeg om sodoende ’n bonuspunt oorwinning te behaal.

Die Dragons is beslis nog nie uit die prentjie nie. Dié span sal egter hul sokkies moet optrek as hulle nie té ver agter wil raak op die puntelys nie.

Eerskomende naweek speel Naka Bulle en die Dragons Saterdag as voorwedstryd vir die Bulls teen die Highlanders op Loftus Versfeld. Quins-Bobbies reis ’n paar kilometer suid om Centurion op hul tuisveld aan te vat en Tukkies vat die pad na Rustenburg vir hul ontmoeting met Impala.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button