Local sportSport

Krisis op Loftus – moet bestuur nou waai?

Die Bulls is na hul vernedering teen die Crusaders by ’n nuwe laagtepunt, maar die oplossing vir die krisis is dalk ’n biejie meer ingewikkeld as wat die meeste ondersteuners glo.

Die afgelope naweek se loesing van 62-24 wat die Bulls op die lyf geloop het teen die Crusaders het die krisis op Loftus Versfeld met ’n rooipen onderstreep.

Die natuurlike reaksie van die meerderheid ondersteuners is om in woede te reageer en die afrigter sowel as die Bulls-bestuur se koppe te eis. Dis sekerlik elke ondersteuner se reg om só te voel, maar as daar ooit ’n tyd was om kalm en rasioneel te bly is dit juis nou. Gaan die probleem oornag opgelos word deur die afrigter en die uitvoerende bestuurder weg te jaag of is die kern van die probleem baie dieper as dít?

Daar is geen twyfel dat verandering op Loftus Versfeld moet kom nie. Die probleem kom in by die hantering daarvan. Dit moet weer beklemtoon word dat geen probleem behoorlik opgelos kan word en geen krisis suksesvol hanteer kan word sonder volkome eerlikheid oor die aard en oorsaak daarvan nie.

Vergeet van verwyte oor ster-spelers wat die Bulle verlaat het. Dis water onderdeur die brug. In hierdie opsig moet daar ook onderskeid getref word tussen spelers wat die unie verlaat het om meer geld elders te verdien en diegene wat om ander redes uit die stelsel op Loftus wou ontsnap. Ja, daar ís sulke spelers, heelwat van hulle. Dalk moet daar dus eerder gekyk word wat met die strukture op Loftus verkeerd geloop het.

As hierdie punt bespreek word, moet daar ook weer vrae gevra word oor die ontwikkeling van die horde jong talent wat na Loftus gelok word teenoor die tendens om duur senior spelers te kontrakteer wat nié deel van die langtermyn plan is nie en ook nie tans ’n verskil maak nie. Om dié gesprek te begin hoef daar nie veel verder gekyk te word as die drie losvoorspelers wat Saterdag in die beginspan teen die Crusaders was en wat géén positiewe invloed op die spel gehad het nie.

Goedkoop koop is duur koop, sê die spreekwoord. Dié woorde moet in gedagte gehou word as ’n eerlike gesprek oor die afrigting en bestuurspan rondom Nollis Marais bespreek word. As jy die beste wil wees, betrek jy die beste afrigters en bestuurders. Dit geld vir almal rondom die span – van die afrigter tot by die kopdokter.

In hierdie opsig moet weer genoem word dat Marais self ’n baie goeie afrigter is. Die vraag is egter of hy ryp was om nou reeds op SupeRugby vlak af te rig? En was hy werklik die argitek van die strukture rondom hom?

Nog ’n punt waaroor eerlikheid moet wees is die feit dat die Bulls se probleme nie in isolasie staan tot die res van die lans se rugbystruktuur nie. Kyk wat het met die Stormers gebeur op hul buitelandse toer. Die Sharks speel ook nou nie juis soos ’n span wat op pad is om vanjaar die reeks te wen nie, terwyl die Lions nie naastenby so goed is soos verlede jaar nie. Die manne van Johannesburg se groot toets sal in die uitspeelwedstryde kom wanneer hulle die bestes van Nieu-Seeland moet aanvat.

Laat ons ook nie die vertoning van die Springbokke verlede seisoen vergeet nie. Ons kan dus maar reguit vir mekaar sê: Die Bulls se probleme is ’n verlengstuk van die krisis waarin Suid-Afrikaanse rugby in geheel is. Die verskil tussen die Bulls en die res is dat die Bulls se ondersteuners met reg beter gewoond is en beter verwag. Die Bulls se ondersteuners wil weer ’n wenspan sien.

In die soeke na oplossings moet die realiteit van die wenkultuur uit die verlede ook eerlik ontleed word. Ondersteuners wil die afrigter en die uitvoerende hoof van die Bulls wegjaag. Gaan dit die wenkultuur terugbring? Vergeet ons dalk die bydrae wat manne soos Ian Schwartz, Wynie Strydom en Jannie Putter onderskeidelik as hoëprestasie bestuurder, spanbestuurder en kopdokter gelewer het in die sukses van die verlede? Dít om maar enkeles te noem.  Werk die dinamika van die manne wat hulle vervang het in die huidige opset? Besef ons werklik watter enorme rol manne soos Schwartz en Strydom gespeel het in die vestiging van die wenkultuur van die verlede? Dis manne wat nie maklik vervang kan word nie. Hoeveel ondersteuners weet dat Putter met die Bulls-kampioene van 2006 tot 2010 gewerk het, maar dat hy deesdae die Lions gefokus hou? Hoekom? Nog besparing op die begroting?

Ja, Suid-Afrikaanse rugby het unieke probleme, maar die Lions het bewys dat dit oorkom kan word met die regte leierskap, visie en kundigheid. Daar is net een langtermyn oplossing vir die huidige krisis by die Bulls. Kyk maar na alle suksesvolle sportspanne reg oor die wêreld en die antwoord sal dalk gevind word. Die Bulls moet dringend iemand vind wat die wenkultuur kan herstel. Dit sal nie vanself gebeur nie. Dit moet heel waarskynlik gedoen word deur ’n direkteur van rugby met die hand uit te soek en aan te stel. Hy sal die regte mense moet saamvoeg en die regte strukture kan skep om die Bulls vir die toekoms voor te berei.

Is daar nog so ’n man in Suid-Afrika te vind wat die unieke situasie in Pretoria reg kan bestuur? Vind hom dan eers voor daar hot en haar mense afgedank word om ’n nuwe bedeling te bou.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button