Local sportSport

VirSeker Beker aksie het begin

Skolerugby sal die volgende paar maande deur aksie in die VirSeker Beker toernooi oorheers word.

’n Nuwe era vir skole-rugby het die afgelope naweek aangebreek met die eerste wedstryde in die VirSeker Beker toernooi wat afgehandel is.

Dié toernooi, wat reeds dekades lank die gewildste skole rugby kompetisie noord van die Vaalrivier is, word van hierdie jaar af onder sy nuwe naam bedryf.

Die kompetisie is in 1922 ingestel en het aanvanklik as die AG Robertson Beker bekendgestaan. Sedert 1934 was dit bekend as die Administrateursbeker toernooi. In 1982 het die naam weer verander, dié keer na die Direkteurstrofee.

Na die politieke veranderings in Suid-Afrika in 1994 het die kompetisie weer verander en hierdie keer is die naam aan ’n kommersiële borg gekoppel. Dit het daarna tot verlede jaar as die Beeldtrofee bekendgestaan.

Hoewel VirSeker reeds verlede jaar by die kompetisie betrokke geraak het, sal dié maatskappy vanaf vanjaar die alleen-borg wees en daarom is die kompetisie nou bekend as die VirSeker Beker.

Daar word gepoog om die toernooi so ver moontlik op ’n krag-teen-krag basis te bedyf en daarom speel skole in verskillende afdelings. Vanjaar ding nege plaaslike skole uit Pretoria mee in die afdeling vir Makro Skole. Hulle is Garsfontein (verdedigende kampioen), Waterkloof, Menlopark, Eldoraigne, Centurion, HTS John Vorster, Zwartkop, Montana en Wonderboom.

In die afdeling vir Groot Skole sal Oos-Moot, Pretoria-Noord, Overkruin, Tuine, Die Wilgers en Midstream Kollege die eer van Pretoria se skole probeer beskerm.

Akasia, Gerrit Maritz, FH Odendaal, HTS Tuine, Uitsig en Pretoria THS is die plaaslike skole in die afdeling vir Medium Skole.

Hierdie skole sal, soos in die verlede, eers plaaslik sake uitspook, waarna daar dan uitspeelwedstryde sal plaasvind teen ander streke om uiteindelik ’n kampioen in elke afdeling te kroon.

Hoewel sommige skole wat by die uitspeelwedstryde in die Tuks-reeks en die Pukke Prestige-reeks betrokke was eers aanstaande naweek hul veldtogte in die VirSeker Beker toernooi sal begin, was verskeie ander plaaslike skole reeds in aksie.

In die afdeling vir Makro Skole het Centurion vir Wonderboom met 25-5 geklop.

Die afdeling vir Medium Skole sal weer vanjaar baie interessant verloop. Oos-Moot, wat ’n paar jaar reeds die plaaslike kampioen is, het met ’n reuse oorwinning van 69-6 oor Pretoria-Noord begin.  Tuine het Overkruin met 56-26 verslaan en Midstream Kollege het Die Wilgers met 39-24 gewen.

Gerrit Maritz het hul veldtog in die afdeling vir Medium Skole met ’n oorwinning van 54-0 teen FH Odendaal begin. Pretoria THS het Akasia met 64-14 kafgedraf.

Dawid Botha, Bemarkingsbestuurder van VirSeker, het vroeër aan Rekord gesê hulle sien uit na ’n langtermyn verbintenis met hierdie toernooi. Hy het ook bevestig dat daar binnekort weer na die kompetisie se struktuur gekyk sal word en dat dit dalk volgende jaar verfyn sal word om ’n meer regverdige stelsel te skep waar die krag-teen-krag beginsel waarlik tot sy reg sal kom.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button