Nasionale rolbalspan van Maleisië besoek plaaslike klub
Die Wonderboom rolbalklub het onlangs as gasheer opgetree vir die nasionale rolbalspan van Maleisië.
Getroue lede van die Wonderboon rolbalklub het onlangs die geleentheid gehad om teen internasionale kompetisie te speel.
Die klub se weeklikse roetine is op aangename wyse verbreek toe die nasionale rolbalspan van Maleisië daar besoek afgelê het tydens hul toer in Suid-Afrka.
’n Gewese lid van die Wonderboom Rolbalklub, Simon Botha, is die huidige afrigter van die Maleisiërs en met sy hulp is die besoek gereël.
Daar is toe besluit om dié besoek in meer as net ’n sosiale geleentheid te omskep en aan die lede van die Wonderboom Rolbalklub die kans te gee om ’n paar potte rolbal te speel teen hul internasionale gaste.
Die meeste van die gewone spelers van die klub het dus op hierdie wyse vir die eerste keer in hul rolbal loopbane die kans gehad om met spelers van internasionale standaard mee te ding.
Die spelers van Wonderboom was ook heel verbaas oor die gemiddelde ouderdom van die span uit Maleisië wat opgedaag het. Hulle was baie jonger as wat die plaaslike spelers verwag het. Tog was die standaard van hul spel besonder hoog en daar is later uitgevind dat sommige van die besoekers al medaljewenners by die Statebond Spele was.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
