Local sportSport

Tuks wen Lucas Strachan skild

Tukkies het die Lucas Strachan Skild gewen nadat hulle die eerste rondte bo-aan die punteleer in die Carltonbeker kompetisie afgesluit het.

Tukkies se Carltonbeker rugbyspan het die afgelope naweek amok gemaak in hul wedstryd teen die Dragons en met hul reuse oorwinning het hulle ook verseker dat die Lucas Strachan Skild vanjaar in die Tuks Rugbyklubhuis op LC de Villiers sal staan.

Hoewel Rustenburg Impala en Quins-Bobbies nog hul laaste verpligting van die eerste rondte van die toernooi moet afhandel, kan nie een van die twee spanne meer vir Tukkies inhaal op die punteleer nie en daarom is laasgenoemde reeds aangewys as wenners van die Lucas Strachan skild. Die skild word toegeken aan die span wat aan die einde van die eerste rondte van die Carltonbeker kompetisie bo aan die puntelys is.

Na vyf wedstryde elk is Tukkies en Centurion gelyk op die punteleer met 19 ligapunte elk, maar die studente is as wenners van die skild aangewys weens hul beter punteverskil.

* Nadat Tukkies gemeet aan hul eie hoë standaard ’n ‘stadige’ begin gehad het in vanjaar se toernooi en selfs vir die eerste keer in 20 jaar teen Naka Bulle verloor het, het Chris Buitendach en Leonard Olivier se span weekliks beter begin speel.

Die afgelope naweek het Tukkies uiteindelik hul snelrat gevind en die krane behoorlik oopgedraai teen die Dragons. Tuks het tien drieë ingeryg om die Dragons behoorlik pak te gee. Die eindtelling was 70-15 in die studente se guns.

Soos die telling aandui was dit hoofsaaklik eenrigting verkeer in ’n wedstryd waarin Tukkies met byna elke moontlike geleentheid aangeval het. Tukkies se vlugvoetige agterlyn het die manne uit die noorde dronk gehardloop en veral manne soos die senter Riaan Britz (3) en vleuel Mervano Da Silva (2) kon baljaar met vyf drieë tussen die twee van hulle.

* In direkte teenstelling met die wedstryd tussen Tukkies en die Dragons was die naweek se ander tweestryd in die toernooi ’n klipharde en spannende wedstryd waarin verlede jaar se eindstryd kandidate mekaar genadeloos getakel het.

Die spanning her regdeur die wedstryd opgebou. Teen rustyd was Centurion ’n kortkop voor die manne van die Moot, maar tot in die laaste sekondes kon enige van die twee spanne hierdie wedstryd gewen het. Toe die eindfluitjie blaas was die Centurion wat met 24-23 as oorwinnaars uit die stryd getree het.

Centurion se drie drieë teen Naka Bulle se twee was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne. Die verdedigende kampioen uit die suide se losskakel, Steven Moir, het homself in hierdie wedstryd boonop gevestig as die grootste puntemaker in die eerste rondte van die toernooi. Hy het tot dusver 59 punte in vyf wedstryde aangeteken.

* Weens Impala se betrokkenheid as nasionale klubkampioen by ’n wedstryd teen die Britse Polisiespan op Ellispark in Johannesburg (wat met 69-15 deur Impala gewen is), sal hul stryd teen Quins-Bobbies eers die komende naweek afgehandel word. Dit vorm deel van een van SA Rugby se rugby-feeste, waar klub- en provinsiale wedstryde op dieselfde dag by klubs gespeel word.

Die tweede rondte van vanjaar se Carltonbeker kompetisie begin op 3 Junie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button