Local sportSport

Sal die regte verandering kom op Loftus?

Die krisis op Loftus Versfeld sal hierdie week waarskynlik op die spits gedryf word, maar koel koppe is nodig om die regte besluit te neem.

Dit lyk of Saterdag se pakslae teen die Lions die finale strooi was wat die kameel se rug gaan breek op Loftus Versfeld en alle aanduidings is dat daar binnekort ’n drastiese aankondiging gaan wees oor die toekoms van die huidige administrasie rondom die Bulls se SupeRugby span.

Eerskomende Saterdag se wedstryd teen die Hurricanes lyk na nóg ’n aankomende trein op die pad van Nollis Marais en sy spelers.

Voor Saterdag se wedstryd in Johannesburg was daar onder sommige rolspelers in die Bulls se kamp ’n sprankie hoop en optimisme te bespeur. Daar was selfs diegene wat, ná die Bulls se goeie vertoning in die tweede helfte teen die Highlanders, geglo het dat Hanro Liebenberg en sy makkers naby daaraan kan kom om die Lions te klop. Johan Ackerman se span het wel tot dusver vanjaar nog net een keer verloor, maar tot voor Saterdag het hulle slegs teen die Stormers gelyk na ’n kampioenspan. Die persepsie het bestaan dat hulle moontlik benadeel word deur die feit dat hulle nog nie vanjaar teen enige van die spanne uit Nieu-Seeland gespeel het nie.

Die Lions het egter op die veld gewys hoe ’n span kán speel wat werklik goed afgerig word. Warren Whiteley en sy troepe se vaardighede is strate beter as enige ander Suid-Afrikaanse span in die kompetisie.

Hulle loop ook oor van selfvertroue, hoofsaaklik weens die feit dat die kern van hierdie span al etlike seisoene saam speel. Die Lions is duidelik ook ’n gelukkige span wat op positiewe wyse gemotiveer word, maar die belangrikste aspek is dat hul geestelike ingesteldheid perfek ondersteun word deur hul vaardighede, wat die toonbeeld is van ’n goed gedrilde eenheid.

In kontras met die Lions het die Bulls hul eie ondergang bewerk deur drie groot kwale.

Eerstens, verdediging. Die Bulls se swak verdediging was hul grootste probleem en dit het die lewe vir die manne van Johannesburg soveel makliker gemaak. Daar was byna nie sprake van kommunikasie op verdediging nie en volgens amptelike statistiek het die Bulls 24 duikslae in die wedstryd verbrou.

Tweedens was daar die swak besluitneming van senior spelers soos Jesse Kriel (op die verdediging) Rudy Paige (Whiteley se drie) en Burger Odendaal (verskeie doellose skoppe) – ’n aspek wat ’n beleërde span soos die Bulls beslis nie nodig het nie. Die organisasie in die lynstane was ook nie na wense nie, want die Lions het daarin geslaag om drie keer kritieke lynstaanbesit af te neem.

Derdens die ander groot kwaal wat die Bulls vanjaar al telkens gesink het – skokkende swak vaardighede met die bal in die hand. Die balbeheer was soms pateties en die Lions kon na willekeur besit omkeer. Dit lei tot foute en dit veroorsaak dat die span geen momentum kan opbou nie.

Dit is seker maklik om woedende ondersteuners tevrede te stel en van Nollis Marais ontslae te raak, maar wat van die res van die bestuurspan? Wie is verantwoordelik vir die verdediging? En vir die indril van die spelers se vaardighede? Wat van die kopdokter, want dié span se fokus is duidelik nie by die spel nie.

Terloops, met Saterdag se vertoning het die Lions ’n dwarsklap na die gewese Springbok afrigter, Heyneke Meyer gemik wat twee weke gelede beweer het dat Suid-Afrikaanse spanne nie soos die All Blacks sal kan speel nie en dat dit ’n fout sal wees om dieselfde spelpatroon aan te leer. Is daar ’n verskil tussen die Lions se spelstyl en dié van die Crusaders? Albei spanne doen eers de basiese dinge goed en reg en skep dan geleenthede deur teen ’n hoë tempo met puik vaardighede en kreatiwiteit te speel.

Daar sal dus baie mooi gedink moet word oor die toekoms, ook met Meyer se opmerking in gedagte. Verkeerde besluite op hierdie stadium kan veroorsaak dat Bulls volgende jaar eerder sal spartel om te oorleef as om hul 80ste verjaardag te vier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button