Local sportSport

Bulls vang groot vis met aanstelling van John Mitchell

Die bekende Nieu-Seelander, John Mitchell, is Donderdag-aand amptelik bekendgestel as die Blou Bulle Maatskappy se nuwe Uitvoerende Rugbyhoof, wat ook vanaf 2018 as hoofafrigter van die Bulls sal optree.

Die Blou Bulle Maatskappy het Donderdagaand die Suid-Adfrikaanse rugbygemeenskap verras met die aankondiging dat die gewese afrigter van die All Blacks, Western Force en die Lions, John Mitchell, aangestel is as die Uitvoerende Rugbyhoof by Loftus Versfeld.

Mitchell is ’n gewese All Black speler wat die huidige wêreldkampioen later ook afgerig het. Hy het ’n 80% wenpersentasie gehandhaaf as All Black afrigter tussen 2001 en 2003. Hy het ook die Chiefs in Nieu-Seeland en die Sale Sharks in Engeland gebrei.

Sy aanstelling by Loftus Versfeld word op 16 Julie amptelik van krag, maar Mitchell sal aanvanklik slegs as raadgewer en bystand vir Nollis Marais dien tot aan die einde van die huidige SupeRugby seisoen.

Marais sal steeds as hoofafrigter van die Blou Bulle se Curriebeker span optree, maar Mitchell sal vanaf 2018 beheer oorneem van die Bulls se SuperRugby span. Marais sal hom steeds bystaan, maar volgens die Blou Bulle Maatskapy se Hoof Uitvoerende beampte, Barend van Graan, sal daar wel mettertyd veranderings gemaak word aan die res van die Bulls se afrigtingspan.

Dit was uit die aankondiging duidelik dat die bestuur van die Blou Bulle Maatskappy steeds vertroue het in die vermoë van Marais as afrigter, maar dat ander lede van sy afrigtingspan waarskynlik in die slag gaan bly.

Van Graan het gesê dat die aanstelling van Mitchell ’n groot stap vorentoe is in hul strategie om die Bulls weer na hul gloriedae van vroeër te herstel. Hy het ondersteuners van die Bulls bedank vir hul geduld met die proses om die regte kandidaat te soek om die Bulls se herstelproses te lei.

Die president van die Blou Bulle Rugby-unie, Gert Wessels, het benadruk dat dit tyd was om belangrike besluite te maak. Hy het erken dat die bestuur van die Blou Bulle mede-verantwoordelikheid moet neem vir die huidige sukkel-seisoen wat die Bulls beleef. Volgens Wessels het hulle waardevolle lesse geleer in die proses. Hy het gesê dat daar beslis te lank aan ouer spelers vasgeklou is en dat te min jonger spelers die afgelope paar seisoene blootstelling op die hoogste provinsiale vlak gekry het. Dit het daartoe bygedra dat die Bulls vanjaar te min ervaring in hul geledere het.

Mitchell het gesê dat hy self ook duur lesse geleer het in sy afrigtingsloopbaan tot op hede. Op ’n vraag wat hy anders by die Bulls gaan doen as wat hy tussen 2010 en 2012 by die Lions gedoen het, het Mitchell beklemtoon dat hy ’n nuwe strategie ontwerp het in sy benadering tot die ontwikkeling van spelers en rugbystrukture. Hy glo dat die Bulls se ondersteuners die verskil binnekort sal sien en dat daar drastiese verandering by die Bulls sal plaasvind “binne die bestek van enkele toernooie”. Volgens dié Nieu-Seelander glo hy nie daaraan om sandkastele te bou nie en daarom het hy reeds ’n plan om die Bulls se strukture te verbeter en op ’n langtermynbasis te vestig.

Mitchell het ondersteuners van die Bulls belowe dat hy presies weet wat gedoen moet word om hul span weer op die wenpad te bring en hy het onderneem om dit so gou moontlik te doen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button