Nollis Marais se lot Donderdag-aand bekend
Verwikkelinge by die Bulls se weeklikse nuuskonferensie het aangedui dat Nollis Marais se lot vandag (Donderdag) nog bekend sal wees.

Die effe bisarre wyse waarop die Bulls se amptelike perskonferensie vir die aankondiging van die span teen die Hurricanes Donderdag geëindig het, is ’n aanduiding dat Nollis Marais die einde van die pad bereik het as SupeRugby afrigter.
Lede van die media was effens verbaas toe Adriaan Strauss saam met Marais by die perskonferensie opdaag. Sy insluiting as haker en kaptein is bevestig toe die spanslys uitgedeel word. Daar was ook ander verrassings, soos die terugkeer van Tian Schoeman as losskakel, Jesse Kriel se skuif na linkervleuel en die feit dat die gewese Junior Springbok en Blitsbok ster, Shaun Adendorff, wéér nie ’n plek in Marais se 23-tal kon kry nie.
Asof Marais se situasie by die Bulls nie benard genoeg is nie, moet hy boonop wéér twee nuwe vleuels kies, nadat die jongelinge Jade Stighling en Sibahle Maxwane albei beseer is. Stighling het die week tevore sy debuut teen die Highlanders gemaak, terwyl Maxwane sy eerste proesel SupeRugby teen die Lions gehad het. Hulle het die beseerde Travis Ismaiel en Jamba Ulengo vervang.
Die gevolg van hierdie beserings is dat nóg ’n debutant, Duncan Matthews, Saterdag teen die Hurricanes Kriel se vleuel-vennoot sal wees.
Die Springbok stut, Trevor Nyakane, se skouerbesering het Marais ook gedwing om hom met Jacobie Adriaanse te vervang.
Hoewel Marais aanvanklik gemoedelik teenoor die media opgetree het, was dit tog duidelik dat hy nie sy ou self was by die perskonferensie nie. Hy het sommige van die media se vrae omseil met vae antwoorde – iets waaraan joernaliste nie gewoond is nie. Marais het nog altyd die beeld uitgestraal van ’n selfversekerde afrigter wat met almal oop kaarte speel.
Dit het agterna geblyk dat Marais, tipies van die ware heer wat hy is, verkies het om sy spelers te beskerm deur nie die skuld vir die span se swak prestasie op hulle te pak en homself te probeer verontskuldig nie.
Nadat Marias minder vrae as gewoonlik beantwoord het, het hy skielik aangekondig dat hy geen TV-onderhoude sou toestaan nie en dat die Bulls se media-bestuurder, Shanil Mangaroo, die media oor verdere verwikkelinge sou inlig. Daarna het Marais die vertrek verlaat en Strauss alleen met die media agtergelaat.
Mangaroo het hierna die media ingelig dat daar vanaand (Donderdagaand) ’n amptelike perskonferensie van die Blou Bulle Maatskappy se bestuur sal wees oor die pad vorentoe.
Dit lyk dus of die einde van Marais se era as SupeRugby afrigter van die Bulls aangebreek het. Rekord sal die genoemde perskonferensie Donderdagaand by Loftus Versfeld bywoon en lesers so gou moontlik oor verwikkelinge inlig.
Die Bulls se span teen die Hurricanes is: Warrick Gelant, Duncan Matthews, Jan Serfontein, Burger Odendaal, Jesse Kriel, Tian Schoeman, Rudy Paige, Hanro Liebenberg, Jannes Kirsten, Ruan Steenkamp, Lood de Jager, Jason Jenkins, Jacobie Adriaanse, Adriaan Strauss (kaptein), Lizo Gqoboko. Replacements: Jaco Visagie, Pierre Schoeman, Conraad van Vuuren, Abongile Nonkontwana, Nic de Jager, Ivan van Zyl, Tony Jantjies, Ulrich Beyers.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
