Local sportSport

Bulls verbeter, maar verloor steeds teen Hurricanes

Die Bulls het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld hul negende nederlaag van die huidige SupeRugby seisoen gely toe die Hurricanes van Nieu-Seeland hulle redelik maklik geklop het.

Die Bulls het Saterdagaand op Loftus Versfeld wel met 20-34 teen die Hurricanes verloor, maar hulle het waarskynlik hul beste vertoning van die seisoen gelewer teen die verdedigende SupeRugby kampioen.

Adriaan Strauss en sy manne se spel het ’n mens die idee gegee dat die afgelope week se verwikkelinge op Loftus Versfeld die enorme druk op Nollis Marais én sy spelers effens verlig het en dat hulle skieklik met meer vryheid gespeel het. Hulle het die bal lustig rondgegooi, maar kon net nie genoeg doen om gereelde kanse wat geskep is af te rond nie.

Die Hurricanes het ’n perfekte begin gehad en slegs ’n minuut na die afskop was Jordie Barret reeds oor die doellyn vir die eerste drie van die wedstryd.

Die handjievol toeskouers wat opgedaag het om as bittereinder-ondersteuners by hul span te staan het op daardie stadium sekerlik getwyfel of dit die regte besluit was om die moeite te doen om Loftus Versfeld toe te ry.

Gelukkig het die Bulls kop gehou en twee minute later het die debutant, Duncan Matthews, deurgenael nadat Burger Odendaal die verdediging geklop het met ’n slim skoppie in die spreekwoordelike kassie.

Daarna was dit net die Bulls se onvermoë om af te rond as hulle gebiedsvoordeel en balbesit geniet, wat hulle gekortwiek het. Die Hurricanes was beslis ook nie op hul beste nie, maar hulle kon steeds nog drie keer gaan druk voor rustyd, hoofsaaklik wanneer hulle munt geslaan het uit foute van die tuisspan.

Nollis Marais se manne het in die tweede helfte terug probeer veg, maar kon weer nie afrond as die kanse daar was nie. Hulle het egter die grootste deel van die tweede helfte oorheers en die besoekers het laat in die tweede helfte pootuit gelyk. Hulle het in die eerste helfte egter genoeg gedoen om uiteindelik redelik maklik te wen, terwyl die Bulls in die tweede helfte wéér nie kon afrond as hulle naby die doellyn gekom het nie.

Hoewel daar ’n verbetering in die Bulls se spel was, sal hulle drasties moet verbeter in hul laaste drie wedstryde (almal teen plaaslike teenstand) en hulle sal eenvoudig moet begin wen as hulle nie die kompetisie as die swakste Suid-Afrikaanse span wil afsluit nie.

 

PUNTEMAKERS:

BULLS: 20 Drieë: Duncan Matthews, Nic de Jager. Doelskoppe: Tian Schoeman (1), Tony Jantjies. Strafdoele: Tian Schoeman (2).

HURRICANES: 34 Drieë: Jordie Barrett, Ngani Laumape, Wes Goosen, Mark Abbott, Leni Apisai. Doelskoppe: Otere Black (2), Jordie Barrett (1). Strafdoele: Otere Black (1).

Skeidsregter: Egon Seconds

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button