Oos-Moot bly onoorwonne in VirSeker Beker toernooi
Terwyl die Makro Skole in die Moot nie ’n goeie naweek in die VirSeker Beker reeks beleef het nie, stoom Oos-Moot steeds onoorwonne voort in die afdeling vir Groot Skole.
Die eerste rugbyspanne van skole uit die Moot het die afgelope naweek gemengde sukses behaal in die VirSeker beker reeks.
Terwyl Oos-Moot steeds onoorwonne is in vanjaar se Stadsbeker vir Groot Skole in dié toernooi, het Wonderboom en HTS John Vorster albei nederlae gely in die B-afdeling van die Makro Skole liga.
* Wonderboom kon ongelukkig nie munt slaan uit die feestelike atmosfeer tydens hul wedstryd nie. In die hoofdis op ’n dag waarop Wonderboom een van hul beroemdste oud skoliere vereer het, moes dié skool se eerstespan uiteindelik die knie buig teen Montana. Laasgenoemde het hierdie taai stryd met 30-22 gewen.
Albei die spanne het vier keer gaan druk, maar die verskil was uiteindelik die skopvoet van Montana se Jason Crafford. Hy het twee drieë verdoel en twee strafdoele oorgeklits om 10 punte vir sy span by te dra, terwyl Wonderboom slegs een drie verdoel het.
* Intussen het Oos-Moot hul onoorwonne rekord in die afdeling vir Groot Skole gehandhaaf met ’n reuse oorwinning teen die sukkelende Overkruin.
Oos-Moot het 14 keer agter die doellyn gaan kuier tydens hul oorwinning van 84-10. Hulle sou baie naby aan ’n honderdtal gekom het as hul skoppers beter gevaar het. Slegs die helfte van die drieë is verdoel.
Eerskomende naweek sal Oos-Moot waarskynlik hul grootste toets van die plaaslike liga deurmaak wanneer hulle Midstraem Kollege op hul tuisveld pak.
* HTS John Vorster sal so gou as moontlik wil vergeet van hul tweestryd met Eldoraigne. Dié wedstryd het op ’n ramp afgestuur vir meyerstraat se manne, aangesien Eldoraigne hulle met 93-0 verniel het. Die uitslag sou waarskynlik in ’n honderdtal vir Eldorainge geëindg het as die skeidsregter nie die eindfluitjie byna ’n kwartier te vroeg geblaas het nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


