Gemengde welslae vir Noord-skole in VirSeker Beker reeks
Montana is die enigste skool uit die noorde van Pretoria wat die afgelope naweek ’n wedstryd kon wen in die VirSeker Beker toernooi.
Slegs een skool uit die noorde van Pretoria kon die afgelope naweek ’n oorwinning behaal in die VirSeker Beker toernooi.
* Montana het Saterdag Wonderboom se partytjie bederf deur hulle met 30-22 te klop in ’n wedstryd wat in ’n feestelike atmosfeer plaasgevind het. Wonderboom kon ongelukkig nie munt slaan uit die gees van die dag waarop een van hul beroemdste oud leerlinge vereer is nie.
Albei die spanne het vier keer gaan druk, maar die verskil was uiteindelik die skopvoet van Montana se Jason Crafford. Hy het twee drieë verdoel en twee strafdoele oorgeklits om 10 punte vir sy span by te dra, terwyl Wonderboom slegs een drie verdoel het.
* Pretoria-Noord se sukkel-seisoen in die afdeling vir Groot Skole gaan steeds voort en hulle het Saterdag teen Die Wilgers verloor. Die eindtelling was 37-20 in Die Wilgers se guns.
Die Wilgers het ses keer gaan druk, terwyl Pretoria-Noord net drie drieë kon aanteken. Eerskomende naweek speel Pretoria-Noord in ’n noord-derby teen Overkruin, wat ook vanjaar sukkel.
* Overkruin het die afgelope naweek ’n groot pakslae gekry by Oos-Moot, wat die tweestryd tussen die twee skole met 84-10 gewen het.
Oos-Moot het 14 keer agter die doellyn gaan kuier tydens hul oorwinning van 84-10. Hulle sou baie naby aan ’n honderdtal gekom het as hul skoppers beter gevaar het. Slegs die helfte van die drieë is verdoel. Overkruin se Franco de Abreu het sy span se enigste drie gedruk.
* Gerrit Maritz, wat in die afdeling vir Medium Skole speel, het hul wedstryd teen die Pretoria Technical High School verloor.
Dit was ’n taai stryd en met ’n bietjie geluk kon Gerrit Maritz hierdie wedstryd gewen het. Die eindtelling was 19-10 in die guns van Pretoria Technical High School.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
