Jong tennisster op pad na nommer een posisie
Pretoria se Bianca Koen toer binnekort saam met die SA Skolespan na Engeland ná ’n baie goeie jaar op die tennisbaan.

Pretoria se jong tennisster, Bianca Koen, is op die drumpel van ’n deurbraak wat haar vir die eerste keer in haar loopbaan bo aan ’n nasionale ranglys sal plaas na ’n reeks skitterende vertonings tot dusver vanjaar.
Suid-Afrika se tweedebeste o.18 meisie het beslis die potensiaal en die temperament om ’n groot ster op die tennisbaan te word. Dit het egter alles so twaalf jaar gelede begin met die spyskaart by haar kleuterskool.
Iewers in Bloemfontein is daar ’n kleuterskool-kok wie se verbeeldinglose spyskaarte dalk nog eendag die krediet sal moet kry as dié belowende tennisster haar volle potensiaal bereik.
Dié matriekmeisie van Hoërskool Waterkloof, was destyds as sesjarige nie baie opgewonde oor die kos wat bedien is nie. Om etenstyd te ontduik het sy ’n maatjie na haar tennisoefening gevolg en dáár het die gogga haar ook gebyt.
In graad drie was sy reeds ’n ernstige tennisspeler en ’n jaar later het sy op tienjarige ouderdom die eerste keer Vrystaat kleure gekry. Na haar laerskoolloopban het sy na Pretoria verhuis en daarna het sy steeds die prestasies ingeryg. Vanjaar het sy die SA skolespan gehaal wat eersdaags na Engeland vertrek om daar teen die beste juniors te speel.
Sy is ook opgewonde oor die vooruitsig om tydens die toer na Engeland die aksie op Wimbledon eerstehands te kan ervaar. Wie weet, dalk sien sy selfs haar groot held, Novak Djokovic, in lewende lywe.
Koen het aan Rekord vertel dat sy die afgelope 18 maande die beste tennis van haar loopbaan speel. Sy het verskeie toernooie gewen en met ’n bietjie geluk kan sy daarop voortbou om voor die einde van die jaar amptelik die land se beste o.18 spelers te wees.
Haar afrigter, Gerrie Dippenaar, glo dat Koen dié doelwit gaan bereik. Volgens hom het sy emmers vol natuurlike talent, terwyl haar veggees op die baan van haar ’n gedugte teenstander maak. Dippenaar glo Koen het die fisiese én psigiese vermoë om ’n groot sukses van haar loopbaan te maak.
Haar prestasies op die tennisbaan het ook nie ongesiens verbygegaan nie. Koen is reeds deur vyf verskillende universietite in Amerika genader om volgende jaar daar te studeer en deel van die bekende ‘College-tennis’ program te word. Vir haar is dit die ideale kans om twee vlieë met een klap te kan doodslaan, want dit sal haar ook die geleentheid bied om vir ’n graad in die natuurwetenskappe te studeer. Sy handhaaf immers ’n 80% gemiddeld op akademiese gebied en sy sien haarself as natuurwetenskaplike of apteker as haar tennisloopbaan die dag verby is. Saam met erekleure vir akademie en tennis spog sy ook met balkies vir hokkie, netbal en swem op haar skoolbaadjie.
Bianca Koen gaan vanjaar vir die eerste keer die Wimbledon ervaring as toeskouer beleef, maar kenners wat haar lankal dophou sal nie verbaas wees as sy binnekort self daar op die grasbane in Londen in aksie gaan wees nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

