Bulletjiedag lok byna sesduisend spelers
Die Blou Bulle se jaarlikse Bulletjiedag was vanjaar weer die grootste gebeurtenis op die rugbykalender vir beginner-rugbyspelertjies.
Die Blou Bulle Rugby-unie se jaarlikse Bulletjierugby dag op Loftus Versfeld was vanjaar weer ’n reuse sukses.
Byna 6000 spelertjies tussen die ouderdomme van ses en agt jaar het saam met hul afrigters, ouers en ander ondersteuners opgeruk na Loftus Versfeld om deel te wees van hierdie Bulletjierugby fees, wat jaarliks net gewilder word.
Skole uit die hele Pretoria en omgewing het deelgeneem en daar was 169 onder-6 spanne, 255 onder-7 spanne en 171 onder-8 spanne in aksie.
Bulletjierugby is ’n besonder gewilde formaat van die spel, waartydens daar nie net ’n liefde vir rugby gekweek word by die jong spelers nie, maar ook vroeg reeds vaardighede en basiese beginsels van rugby aan hulle bekendgestel word. Die wenmotief word op die agtergrond geplaas en die klem van die spel is op deelname, samespel en genot.
Die seuns speel nie kontakrugby nie. Hulle word dus nie op dié jong ouderdom aan ernstige beserings blootgestel nie. Elke speler kry twee materiaal stroke wat met die hulp van ‘velcro’ aan hul heupe geheg word. Verdedigers moet dan een van hierdie stroke van die aanvaller se heupe afruk, waarna hy onmiddelik die bal moet uitgee. Geen spelers sonder albei sy materiaal stroke aan sy lyf mag dus ’n drie gaan druk nie.
Albei spanne se afrigters word ook saam met die skeidsregter op die verkleinde speelveld toegelaat om die seuntjies leiding te gee. Die speelveld is ongeveer een agtste van ‘n standaard rugbyveld.
Loftus Versfeld was oudergewoonte ’n miernes van bedrywighede, want behalwe vir die rugby was daar ook ander vermaak vir oud en jonk. Kos- en koeldrank stalletjies het fluks besigheid gedoen, terwyl ’n speelpark met springkastele ook sommige van die kinders besig gehou het.
Die Blou Bulle se amptelike gelukbringer, Bulletjie, was weer ’n baie gewilde attraksie vir die kinders onder die toeskouers, terwyl die Bulls Babes, die Blou Bulle se rasieleiers, ook die dag bygewoon het.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:











