Local sportSport

Centurion en Eldoraigne oorheers steeds in VirSeker Beker

Eldoraigne en Centurion lyk steeds na die gunstelinge in die B-afdeling van die Makro Skole liga in die VirSeker Beker toernooi.

Hoërskool Centurion en Hoërskool Eldoraigne oorheers steeds die B-afdeling vir Makro Skole in die VirSeker Beker toernooi in Pretoria.

Dié twee skole het die afgelope naweek albei groot oorwinnings behaal en dit lyk of die stryd om die Stadsbeker tussen dié buurskole beslis sal word.

Albei die skole het na die Moot gereis vir die afgelope naweek se aksie, wat ter wille van TV-opnames op een terrein plaasgevind het. HTS John Vorster was die gasheer vir dié rugbydag.

* Eldoraigne was eerste in aksie teen Wonderboom. Hulle het uiteindelik maklik met 60-14 gewen, hoewel Wonderboom in die tweede helfte met ’n terugvegpoging vorendag gekom het en heelwat meer weerstand gebied het as in die eerste helfte.

Die rustyd telling was reeds 39-7 in die guns van Eldoraigne en dit wou lyk of laasgenoemde hul kragtoer van die vorige week teen HTS John Vorster sou herhaal, nadat hulle sewe keer gaan druk het in die eerste 35 minute.

In die tweede helfte het Wonderboom met nuwe geesdrif ingeklim en hulle was werklik ongelukkig om net een keer die doellyn te haal in die laaste skof. Hul verdediging was ook stukke beter en Eldoraigne kon net drie keer gaan druk.

In geheel gesien was Eldoraigne egter net té sterk voorlangs en té vinnig en vaardig agterlangs. Eldoraigne het ook die afbreekpunte oorheers en veral in die eerste helfte na willekeur besit omgeer, waarmee hul agterspelers kon aanval.

* HTS John Vorster se gesukkel in vanjaar se toernooi is Saterdag voortgesit toe Centurion hulle met 68-13 kafgedraf het.

Centurion het alle aspekte van die spel oorheers en tien keer die doellyn oorgesteek. HTS John Vorster het beslis nie net boedel oorgegee nie. Hulle het regdeur hard geveg, maar was duidelik net nie opgewasse teen die krag, vaardigheid en beter kondisionering van die seuns uit die suide nie.

HTS John Vorster se moedige poging word onderstreep deur die feit dat hulle vyf minute voor die eindfluitjie hul tweede drie kon aanteken.

Een van die uitstaande aspekte van die wedstryd was Ethan Wentzel, losskakel van Centurion, se puik skopwerk na die pale. Hy het slegs een doelskop verbrou vir ’n 90% suksessyfer.

Binnesenter Kevin Osborne was Centurion se ander uitblinker. Hy is kort na rustyd vir sy goeie spel beloon toe hy sy driekuns voltiooi het.

* Die ander skool uit Centurion wat betrokke is in die B-afdeling van die Makro Skole liga, Zwartkop, het Saterdag in ’n taai stryd teen Montana verloor. Montana het met 22-17 gewen. Dit was egter ’n klipharde wedstryd wat deur enige van die twee spanne gewen kon word.

* Na ’n reeks goeie vertonings tot dusver hierdie seisoen het Midstream College hulle Saterdag vasgeloop in die verdedigende Stadsbeker kampioen in die afdeling vir Groot Skole. Oos-Moot het Midstraem College met 52-24 verslaan.

Oos-Moot se oorwinning, waarin hulle sewe drieë teen Midstraem se drie gedruk het, het ten minste vir laasgenoemde ’n idee gegee hoeveel hulle sal moet verbeter as hulle vanjaar die Stadsbeker wil wen. Dié twee spanne sal waarskynlik in die eindstryd van die afdeling vir Groot Skole teen mekaar te staan kom, aangesien hulle tot dusver ver bo die res uittroon.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button