Wêreldkampioen beskoek Centurion muurbalklub
Die wêreld se beste muurbalspeler het Suid-Afrika onlangs besoek en een van die klubs in Centurion het besonder baie gebaat by dié toer.
Die junior muurbal spelers van Centurion Junior Squash (CJS) het onlangs die ondervinding van ‘n leeftyd gehad met die besoek van die wêreld beste muurbalspeler, Karim Samy Abdelgawad van Egipte.
Die klub se afrigter, Jean Pierre Brits, is ’n baie goeie vriend van Abdelgawad. Hy het hierdie weeklange besoek gereël, waartydens Abdelgawad tyd met die Juniors van Centurion op die baan spandeer het.
Abdelgawad het daagliks in vertoonwedstryde by verskillende klubs in Pretoria en Johannesburg opgetree. Die hoogtepunt van sy besoek was ’n geleentheid by Wanderers in Johannesburg. Hier het Abdelgawad onder andere teen een van CJS se juniors, die elfjarige Judah Phillips, gespeel.
CJS afrigter en top Suid-Afrikaanse speler Jean Pierre Brits en die Suid-Afrikaanse nasionale speler, Christo Potgieter, was volgende en het moedig probeer om Abdelgawad onder druk te plaas op die baan. Die Egiptenaar was egter duidelik in ’n ander klas en hy het die Suid-Afrikaners maklik oorrompel.
Die CJS juniors en afrigters wat hierdie geleentheid bygewoon het was dit eens dat dit ’n besonder leersame ondervinding was om so ‘n wêreldklas speler in aksie te sien.
Maryna Fourie hoofafrigter van Centurion Junior Squash sê die groot doel met geleenthede soos hierdie is die blootstelling wat juniors kry en die motivering om harder te werk vir sukses in die sport. Die ervaring sal hul horisonne verbreed en dit behoort hulle te help om doelwitte te stel waarvolgens hulle as muurbalspelers wil groei. Hulle weet ten minste nou hoe goed ’n speler moet wees om ’n wêreldkampioen te word.
As ’n bonus het die kliniek ook die deure oopgemaak vir die juniors van Centurion om in moontlik in Desember na Egipte te toer.
Belangstellendes kan ook Centurion Junior Squash se facebook blad besoek by https://www.facebook.com/CenturionJuniorSquash/
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
