Springbokke seëvier teen Franse Hane op Loftus
Warren Whiteley en sy Springbokke het die 2017 internasionale seisoen op ’n hoogtepunt begin met ’n puik oorwinning oor Frankryk.
Die Springbokke het Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners hoop gegee vir die seisoen wat voorlê toe hulle Frankryk Saterdagmiddag oortuigend met 37-14 geklop het in die eerste toets uit ’n reeks van drie teen die Hane.
Die Springbokke het van die afskop af gewys dat hulle ernstig was toe hulle die afgelope week gesê het die deur van die verlede is agter hulle toegemaak. Hierdie nuwe Springbokspan was lus vir rugby en het dadelik begin om met elke geleentheid aan te val.
Die Bokke het ook, anders as verlede jaar, met selfvertroue gespeel en hul algehele vaardighede was heelwat beter. Die Franse het egter nie teruggestaan vir die uitdaging nie en hulle het self met mening ingeklim op sowel die verdediging as die aanval.
Warren Whiteley en sy manne het voorlangs oorheers en veral in die eerste halfuur was hulle die beste span op die veld. Ongelukkig het daar nog te veel foute ingesluip en die Bokke kon nooit werklik die momentum opbou wat hulle graag sou wou bewerkstellig nie. Hulle het heelwat geleenthede geskep, maar kon net een keer afrond.
Die eerste drie van die wedstryd was ’n juweel, waarin Andries Coetzee veral ’n reuse rol gespeel het. Dié heelagter was vol ondernemingsgees in sy debuut en hy het tien minute voor rustyd deurgebreek, waarna hy Jesse Kriel kon wegstuur vir ’n puik drie.
Die Franse het egter onmiddelik terugeslaan en met ’n vlaag aanvalle begin, totdat hul buitesenter, Henry Chavancy, die bal agter die doellyn kon toeval.
Teen rustyd was die telling 16-7 in die Bokke se guns, danksy drie goeie strafdoele deur Elton Jantjies wat by die punte van Kriel se drie gevoeg is.
Die Franse kaptein, Yaonn Maestri, en sy span het in die tweede helfte onmiddelik die pas probeer aanjaag en hulle het met elke moontlike stukkie besit aangeval. Hulle het die Bokke laat bontstaan in die eerste 15 minute van die tweede skof en toe die reserwe skrumskakel Baptiste Serin oorduik vir Frankryk se tweede drie, was daar net twee punte verskil tussen die twee spanne.
Halfpad deur die tweede helfte het die wedstryd ’n drastiese wending gehad toe die Springbokke binne twee minute 14 punte opgestapel het.
Eers het Glen Jackson en sy kollega, die TV-skeidsregter, Rowan Kitt, besluit om ’n strafdrie aan die Springbokke toe te ken nadat Courtnal Skosan deur die Franse heelagter, Brice Dublin, vasgehou is toe hy ’n skoppie wou opvolg om in die hoek te gaan druk.
Twee minute later het Ross Cronjé puik gebreek en regdeur gesuiker om onder die pale te druk.
Hierna was die besoekers onderdruk en hulle moes inhaal-rugby probeer speel, wat hulle tot onnodige foute gedwing het. Een van hierdie foute het gelei tot Jan Serfontein se drie sowat twaalf minute voor die eindfluitjie. Daarna was die koeël deur die kerk en die Bokke kon aan hul voorsprong vasklou om redelik maklik te wen.
PUNTEMAKERS:
SPRINGBOKKE: 37 Drieë: Jesse Kriel, Strafdrie, Ross Cronjé, Jan Serfontein. Doelskoppe: Elton Jantjies (3) Strafdoele: Elton Jantjies (3).
FRANKRYK: 14 Drieë: Henry Chavancy, Baptiste Serin. Doelskoppe: Jules Plisson (2). Strafdoele:
Skeidsregter: Glen Jackson
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:























