Local sportSport

Klofies klop Menlo, maar word uit VirSeker Beker reeks geskop

Na ’n paar weke van drama op die skolerugby front lyk dit of Waterkloof nie verder aan vanjaar se VirSeker beker reeks sal deelneem nie.

Terwyl Hoërskool Waterkloof die afgelope naweek oortuigend met Hoërskool Menlopark afgereken het in hul rugby-derby in die VirSeker Beker reeks, hang ’n swaard oor die Makro Skole liga weens binnepolitiek in die A-afdeling van dié liga in Pretoria.

Waterkloof se oorwinning van 46-23 teen Menlopark kan dalk alles tevergeefs wees as die Blou Bulle Hoërskole rugbyvereniging (BBHRV) en die Noordvaal Hoërskole rugbyvereniging (NVSRV) hul sin kry. Die BBHRV het Waterkloof onlangs ingelig dat hulle al hul ligapunte sal verloor en verdere deelname aan die reeks sal verbeur as hulle nie voor die einde van Junie hul wedstrydverpligting teen hul ander buurskool, Hoërskool Garsfontein, nakom nie.

Waterkloof weier egter weens binne-politiek om teen Garsfontein te speel. Die rede wat hiervoor aangevoer word is dat dit uit beginsel gedoen word weens Garsfontein se sogenaamde “afrokkeling” van spelers, wat glo onlangs ook oud spelers van Waterkloof ingesluit het. Waterkloof het vroeër in ’n verklaring erken dat hulle voorheen ook aan hierdie praktyk skuldig was, maar dat hulle dit reeds in 2011 gestaak het en deesdae slegs op laerskole vlak sportsterre werf.

Rekord het verneem dat daar aanvanklik besware was uit die Makroskole se B-afdeling teen die situasie, aangesien Waterkloof ten spyte van hul weiering om teen Garsfontein te speel steeds sou deurdring na die Noordvaal-ligafase wat ná die wintervakansie plaasvind.

Yolandé de Nysscen, mediaskakelbeampte van Waterkloof, het aan Rekord gesê dat hulle steeds hoop om die saak met onderhandeling te beredder, maar dat ’n hofaansoek om die besluit van die BBHRV ter syde te stel steeds nie uitgesluit is nie.

Volgens Ferdi Niemand, voorsitter van beide die BBHRV en die NVSRV, beskou hulle egter die saak as afgehandel. Niemand het aan Rekord gesê dat Waterkloof hulle skriftelik ingelig het dat hulle steeds weier om teen Garsfontein te speel en op grond daarvan (met inagneming van die amptelike reëls van die toernooi) is Waterkloof se ligapunte weggeneem, wat beteken dat hulle effektief verdere deelname aan die kompetisie verbeur.

Niemand het ook aan Rekord verduidelik dat twee plaaslike skole uit die Makro skole se B-afdeling sal deurdring na die volgende rondte in die Noordvaal afdeling van die VirSeker Beker reeks. In prakyk beteken dit dus dat die uitspeelstryd tussen Centurion en Eldoraigne om te bepaal watter skool in die B-afdeling sou deurdring nou gekanselleer is en dat beide die twee skole saam met Garsfontein en Menlopark die Blou Bulle as Makro skole ná die wintervakansie sal verteenwoordig in die Noordvaal afdeling van die toernooi.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button