Min te kies tussen top vyf in Carltonbeker
Naka Bulle het die afgelope naweek geskiedenis gemaak deur Tukkies vir die tweede keer vanjaar in die Carltonbeker toernooi te klop.
Die Carltonbeker toernooi se tweede rondte is reeds aan die gang en daar lê ’n paar moeilike weke voor vir die top vyf spanne wat sake moet uitspook vir ’n plek in die halfeindstryde.
Slegs die Dragons is nie meer in die wedloop nie, nadat hulle die afgelope naweek hul sewende nederlaag in vanjaar se reeks gely het. Die uitslae in die ander twee kragmetings van die afgelope naweek het weer bewys dat die wedywering baie straf is en dat die vier kandidate vir die halfeindrondte waarskynlik eers in die laaste ligawedstryde bepaal sal word.
* Naka Bulle het Vrydagaand op hul tuisveld geskiedenis gemaak toe hulle dit reggekry het om Tukkies met 22-18 te klop. Met hierdie oorwinning het die manne van die Moot vir die eerste keer in hul bestaan daarin geslaag om twee keer in een seisoen teen die studente as wenners van die veld te stap.
Dit was Naka Bulle se eerste wedstryd van die tweede rondte en ná drie nederlae in die eerste rondte moes hulle eenvoudig hierdie en wen om binne trefafstand van die voorlopers te bly op die punteleer.
Hoewel Sylverster Booysen en sy manne aanvanklik gesukkel het om Tukkies se swaar pak voorspeelrs in toom te hou – veral as hulle aan die dryf gegaan het – kon die studente nooit daarin slaag om hul oorheersing voorlangs tot hul voordeel uit te buit nie.
Naka Bulle was egter vol planne agterlangs en teen rustyd was hulle reeds met 15-10 voor danksy twee drieë teen die een van Tuks.
Die tweede helfte was ’n ewe titansiese stryd. Naka Bulle moes ekstra hard veg toe plaasvervanger losskakel, Anton Beswick, op ’n stadium tien minute langs die kantlyn was weens ’n geelkaart. Tukkies kon in hierdie tyd egter slegs drie punte met ’n strafdoel by hul totaal voeg.
Die tuisspan se skrumskakel, Etienne Storm, moes later na vleuel uitskuif weens beserings aan sy spanmaats, maar dit was juis uit hierdie posisie dat hy as held van die aand ontpop het toe hy sewe minute voor die eindfluitjie die wendrie kon gaan druk. Dit was die tuisspan se derde drie, wat hulle welverdiende wenners gemaak het.
* In Vrydagaand se ander wedstryd het Quins-Bobbies weer gewys dat hulle al hoe sterker en beter raak soos die seisoen vorder toe hulle nege drieë ingeryg het in hul oorwinning van 59-12 teen die Dragons.
Die manne uit die noorde het moedig probeer, maar hulle is in alle aspekte van die spel oorheers en kon met min goeie besit nie veel uitrig nie. Die druk waaronder hulle in die wedstryd geplaas is word ook weërspieël deur die feit dat twee van Quins-Bobbies se drieë strafdrieë was.
Hoewel die Dragons nie meer die halfeindrondte kan haal nie, het hulle steeds die vermoeë om een van die ander spanne te verras, veral op hul tuisveld. Hulle kan dus nog ’n bepalende rol speel in die oorblywende wedstryde.
* Die verdedigende kampioen, Centurion, het Saterdag in Rustenburg hul tweede nederlaag van die seisoen gely toe Impala hulle naelskraaps met 23-22 geklop het.
Met hierdie oorwinning het Impala weer gewys dat hulle ’n ernstige kandidaat is om die eerste span buite Pretoria te word wat die Carltonbeker wen.
Dit was ’n klipharde wedstryd wat deur enige van die twee spanne gewen kon word. Albei spanne het drie keer gaan druk en slegs een verbroude doelskop het Centurion van ’n oorwinning beroof.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
