Centurion verhang bordjies teen Tuks
Die spanning bou op in die Carltonbeker liga en nie een van die top vyf spanne kan bekostig om ’n wedstryd te verloor in die laaste paar weke voor die halfeindrondte nie.
Die Carltonbeker toernooi het die stadium bereik waar elke wedstryd wat in die volgende paar weke gespeel word kritiek belangrik sal wees om die kandidate vir die halfeindrondte te bepaal.
Die afgelope naweek se uitslae het egter ’n situasie geskep waar slegs die verdedigende kampioen, Centurion, redelik seker kan wees van ’n plek in die halfeindrondte. Centurion kort een ligapunt om te kwalifiseer, wat beteken dat hulle slegs een van hul oorblywende twee wedstryde met minder as sewe punte moet verloor.
Die span wat waarskynlik die meeste druk gaan ervaar in die pylvak na die halfeindrondte is Naka Bulle, wat geen ligapunte kon insamel tyddens hul nederlaag teen Quins-Bobbies nie. Die manne van die Moot sal dus nie kan bekostig om enige van hul laaste drie wedstryde te verloor nie. Trouens, hulle sal waarskynlik in al drie hul oorblywende wedstryde bonuspunt-oorwinning moet behaal as hulle nog die halfeindrondte wil haal.
* Centurion het verlede week die bordjies teen Tuks verhang, nadat die studente hulle in die eerste rondte geklop het. Centurion het Tukkies op laasgenoemde se tuisveld op die LC de Villiers sportkampus oortuigend met 44-20 geklop.
Riaan Brandt se manne was teen rustyd reeds met 23-10 voor en hulle het uiteindelik ’n bonuspunt oorwinning behaal deur vier keer te druk teen Tuks. Die studente kon slegs twee keer die doellyn haal.
Die kern van Centurion se span speel nou reeds ’n paar seisoene saam en Brandt het hulle in ’n hegte eenheid met min swakplekke omskep. Centurion se losskakel, Steven Moir, bly ook die generaal van sy span wat wedstryde dikteer én die telbord aan die rol kan hou met sy akkurate skopvoet.
Tukkies sukkel om behoorlik vlam te vat sonder al hul Varsitybeker sterre en hul nederlaag teen Centurion was reeds hul derde van die seisoen.
* Quins-Bobbies het hul agtste bonuspunt in agt wedstryde verdien met die vier drieë wat hulle teen Naka Bulle kon druk vir hul oorwinning van 39-27. Hierdie feit veroorsaak dat Quins-Bobbies tans tweede op die punteleer is al het hulle slegs die helfte van hul wedstryde gewen.
Nico Luus se span het egter steeds ’n moeilike pad na die halfeindrondte, aangesien hulle in hul laaste twee wedstryde teen Impala en Centurion te staan kom.
Naka Bulle, wat net soos Impala een wedstryd minder as die res gespeel het, moet ook nog teen die manne van Rustenburg en teen Centurion speel, terwyl hul derde verpligting teen die sukkelende Dragons sal wees.
* Die Dragons soek steeds na hul eerste oorwinning in vanjaar se toernooi, nadat hulle verlede week met 54-3 deur Impala verslaan is. Die Noordwesters het agt drieë ingeryg, terwyl die Dragons se enigste punte van ’n strafdoel deur heelagter Brendon Venter gekom het.
Hoewel die Dragons nog nie vanjaar kon wen nie – en erg sukkel sedert die aanbreek van die tweede rondte – is dit steeds binne hul vermoë om die kaarte deurmekaar te krap in een van hul laaste twee wedstryde teen Naka Bulle en Tukkies.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
