Vyf Curriebeker rugbywedstryde vanjaar op Sondag gespeel
Dit lyk of Sondagrugby in Suid-Afrika gekom het om te bly, aangesien vyf Curriebeker wedstryde vanjaar op Sondae gespeel sal word.
Sondagrugby gaan ’n instelling word in Suid-Afrika tydens die komende Curriebeker reeks, wat op Vrydag 21 Julie afskop.
Vyf van die wedstryde tydens vanjaar se toernooi is geskeduleer om op Sondae plaas te vind. Nelspruit, Bloemfontein, Kimberley, Pretoria en Johannesburg se rugby-ondersteuners sal almal moet besluit of hulle hul spanne op ’n Sondag wil ondersteun, aangesien daar Sondagrugby vir dié vyf stede geskeduleer is.
Die Blou Bulle sal op Sondag 1 Oktober teen hul aartsvyand, die Westelike Provinaise, op Loftus Versfeld te staan kom.
Nadat rugby op Sondae meer as ’n dekade gelede reeds eksperimenteel in Suid-Afrika toegepas is, is dit gestaak weens openlike weerstand vanaf die rugbypubliek. Hoewel Sondagrugby in stede soos Durban en Kaapstad deurlopend voorgekom het, was dié praktyk die afgelope dekade nie gebruiklik in stede soos Pretoria, Bloemfontein, Nelspruit en selfs Johannesburg nie.
SA Rugby het egter vroeër vanjaar hul sogemaande ‘Rugby Feesdae’ as deel van die nuwe SuperSport Uitdaagreeds bekendgestel. Op hierdie ‘rugbyfeeste’ speel klubspanne en provinsiale spanne op Sondae op dieselfde veld in ’n poging om meer belangstelling te lok vir die toernooi, wat die Vodaconbeker toernooi vervang het. Die ‘rugbyfeeste’ was geskeduleer vir stede soos Port Elizabeth, Rusteburg, Oos-Londen en Oudtshoorn.
Die Lions en die Kings het ook op Sondag 28 Mei vanjaar op Ellispark in ’n SuperRugby wedstryd gespeel.
Die praktyk van Sondagrugby sal nou uitgebrei word na die komende Curriebeker reeks, wat op Vrydag 21 Julie begin. Die reeks begin vroeër as vorige jare, aangesien ’n dubbel-rondte ligawedstryde ingepas moet word in die program. Daar sal ook wedstryde op Woensdag 9 Augustus (openbare vakansiedag) plaasvind.
Sewe spanne sal vanjaar deel wees van die Curriebeker se Premierliga. Die Blou Bulle sal kompeteer met die Cheetahs (verdedigende kampioen), Pumas, Goue Leeus, Griekwas, Haaie, en WP. Dit beteken dat drie wedstryde elke naweek sal plaasvind, terwyl een span ’n loslootjie sal hê. Die ligawedstryde sal tot 14 Oktober duur, waarna die halfeindrondte (14 Oktober) en eindstryd (21 Oktober) in opeenvolgende naweke sal plaasvind.
Die Blou Bulle sal hul veldtog op Saterdag 22 Julie teen die Griekwas in Kimberley afskop.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
