Bloubul legende Johann Lamprecht oorlede
Een van die Bloubul legendes van die tagtigerjare, Johann Lamprecht, is verlede week oorlede.
Een van die grootste legendes van Bloubul rugby in die suksesvolle era tussen 1984 en 1991, Johann Lamprecht, is verlede week vermoedelik aan ’n hartaanval oorlede. Hy was 57 jaar oud.
Lamprecht word algemeen beskou as een van die ongelukkigste Bloubul legendes om nooit sy Springbok kleure te verwerf nie. Hy was in die laat tagtigerjare een van die beste flanke in Suid-Afrikaanse rugby, maar weens die politieke isolasie van die land was daar bittermin geleentheid vir rugbyspelers op internasionale vlak. In die enkele toetse wat wel in daardie tyd plaasgevind het, is Lamprecht slegs deur Gert Smal van die WP uit die Springbokspan gehou.
Lamprecht was tussen 1986 en 1989 deel van ’n formidabele lostrio saam met nog twee legendes, Burger Geldenhuys en Pote Fourie. In dié tydperk het die Blou Bulle die Curriebeker drie jaar agtereenvolgens gewen. Hy is was ook die eerste nie-Springbok wat die prestasie kon behaal om meer as ’n honderd wedstryde vir die Blou Bulle te speel. Hy het tussen 1986 en 1991 in 101 wedstryde in die beroemde blou trui van die destydes Noord-Transvaal uitgedraf.
Dié klipharde flank was ’n Pretorianer in murg en been. Hy het in die Moot grootgeword, waar hy rugby leer speel het by Laerskool Totiusdal en later aan Hoërskool Oos-Moot gematrukuleer het. Na skool het Lampies, soos hy onder sy spanmaats bekend was, by Tukkies studeer. Hy was daarna vir jare betrokke in die bankwese.
Lamprecht het voor sy dood in Louis Trichardt in Limpopo gewoon, waar hy vir ’n groot verspreider van hoendervleis gewerk het.
Hy word oorleef deur sy dogter, Liana, en twee kleinseuns. ’n Roudiens is reeds verlede week in Waverley vir Lampecht gehou en verskeie van sy oud spanmaats het hom kom groet.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
