Steeds vyf perde in resies na Carltonbeker halfeindrondte
Tukkies het die afgelope naweek hul derde agtereenvolgende nederlaag gely in die Carltonbeker toernooi, terwyl die verdedigende kampioen, Centurion, ook pak gekry het.
Met slegs een ligawedstryd wat oorbly vir die meerderheid spanne in vanjaar se Carltonbeker toernooi, is daar steeds nie sekerheid oor die vier halfeindstryd kandidate nie.
Die verdedigende kampioen, Centurion, is die enigste span wat reeds seker gemaak het van ’n plek in die halfeindrondte, nadat hulle die afgelope naweek ’n bonuspunt verdien het tydens hul nederlaag teen Quins-Bobbies. Laasgenoemde lê tweede op die punteleer, maar kan teoreties nog uitgeskakel word as hulle geen ligapunte verdien in hul laaste ligabepaling teen Rustenburg Impala nie.
Die Carltonbeker toernooi van 2017 sal waarskynlik in die toekoms onthou word as die jaar waarin klubrugby in Pretoria weer voormalige gloriedae geëwenaar het, na byna twee dekades waarin klubs deel van ’n van herposisioneringsproses was. Vanjaar is slegs ses klubs vir die liga geregistreer, maar vir die eerste keer in jare was daar werklik ’n krag-teen-krag situasie, met slegs die Dragons wat tans nie meer vir die halfeindrondte kan kwalifiseer nie.
* Quins-Bobbies het weer gewys dat hulle al hoe sterker word na mate die seisoen vorder. Nadat Nico Luus en Gert Mulder se manne vier keer verloor het in hul eerste ses wedstryde, spog hulle nou reeds met drie agtereenvolgende bonuspunt-oorwinnings. Die verdedigende kampioen en voorloper op die punteleer, Centurion, was Quins-Bobbies se nuutste slagoffer. Laasgenoemde het ses drieë gedruk vir ’n oorwinning van 52-32.
Centurion het egter self vier keer gaan druk om daarmee ’n bonuspunt te verdien en hul plek in die halfeindrondte te bespreek.
Quins-Bobbies se kookwater agtsteman, Jan-Hendrik Bosman, was weer een van sy span se uitblinkers en hy het sy sewende drie van die seisoen gaan druk. Dit plaas hom saam met Centurion se heelagter, JP du Plessis en Tuks se haker, Theuns Reynolds (ook sewe drieë elk), bo aan die lys van top driedrukkers van die seisoen.
Quins-Bobbies pak Impala eerskomende Saterdag op hul tuisveld in Groenkloof in ’n wedstryd wat hulle móét wen om seker te maak dat hulle vir die halfeindrondte kwalifiseer.
* Impala het intussen hul eie vlam van hoop hoër laat brand met hul oorwinning van 40-33 oor Tuks.
Die manne van Rustenburg het ses keer gaan druk, terwyl Tukkies self ’n bonuspunt verdien het met vyf drieë. Dit was Tuks se derde agtereenvolgende nederlaag, iets wat baie jare laas gebeur het.
Impala, wat nog twee wedstryde in die ligafase oor het, het hiermee hul vierde agtereenvolgende oorwinning behaal, maar hulle pad na die halfeindstryd word nie makliker nie. Nico le Roux en Naas Olivier se manne kom in die volgende twee weke nog teen Quins-Bobbies en Naka Bulle te staan. Albei dié spanne veg ook om ’n plek in die halfeindrondte.
Tukkies se pad na die halfeindrondte is teoreties makliker, omdat hulle eerskomende Donderdagaand in hul laaste ligabepaling teen Dragons sal speel. Tuks kan egter nie bekostig om Dragons te onderskat nie, ten spyte van die manne uit die noorde se sukkel-seisoen. Net ’n bonuspunt-oorwinning sal goed genoeg wees om Tuks se plek in die halfeindrondte te bespreek.
* Naka Bulle se oorwinning van 57-7 teen die Dragons het hulle vlam van hoop ook lewend gehou. Die manne van die Moot het met hierdie oorwinning nie net nege drieë ingeryg nie, maar ook hul punteverskil op die puntelys met 50 punte verbeter, wat oor twee weke ’n faktor kan wees as die laaste wedstryd tussen Naka Bulle en Impala dalk die bepalende tweestryd vir die halfeindstryd kandidate gaan wees.
Naka Bulle moet egter eerskomende naweek eers nóg ’n harde neut kraak wanner hulle teen Centurion te staan kom. Laasgenoemde het hulle in die eerste rondte met ’n enkele punt (24-23) geklop, maar Sylverster Booysen en sy manne sal hoop dat hulle die bordjies kan verhang. Gebeur dit nie, sal hul laaste wedstryd teen Impala bloot van akademiese belang wees.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

