Local sportSport

Unieke skolerugby toernooi weer aangebied

Die Blou Bulle se unieke skolerugby toernooi waartydens skoolseuns in die kleure van plaaslike klubs om die Assupol Beker meeding, vind vanaf eerskomende Saterdag op Loftus Versfeld plaas.

Die unieke Assupolbeker skolerugby toernooi, voorheen bekend as die Enristabeker toernooi, word vanaf eerskomende Saterdag vir die vierde agtereenvolgende jaar by Loftus Versfeld aangebied.

Suksesstories oor rugbyspelers wat as sogenaamde “laat ontwikkelaars” groot hoogtes bereik sonder dat hulle op skool aan toernooie soos die Cravenweek, Grand Khomoweek of Nasionale Akademieweek deelgeneem het, groei jaarliks. Al wat hierdie spelers benodig is ’n kans om hul talent te bewys.

Die Blou Bulle is waarskynlik die enigste rugby-unie in die land wat amptelik ’n ekstra platvorm geskep het waar seuns wat deur die amptelike provinsiale skole-keurders oor die hoof gesien is, ’n geleentheid kry om talentsoekers te beïndruk. As bonus dien hierdie toernooi ook as ideale voedingsbron vir plaaslike klubs. Verskeie spelers het reeds sedert 2014 via hierdie toernooi geleenthede gekry om ná skool verteenwoordigende rugby te speel, terwyl die standaard van plaaslike klubrugby op o.20, o.21 én senior vlak ook merkbaar verbeter het sedert die Enristabeker toernooi drie jaar gelede vir die eerste keer aangebied is.

Die voormalige borg het weens tegniese redes onttrek, maar Assupol het vanjaar ingestem om dié belangrike en gewilde toernooi te borg. Dit sal dus vanjaar as die Assupolbeker toernooi bekendstaan – nie te verwar met die Assupol Klubreeks, ’n ander senior klubtoernooi wat vroeg in die seisoen vir alle Noordvaal Rugby-unies aangebied word nie. Spar het ook aan boord gekom en dié supermark groep sal as mede-borg optree.

Sover bekend is die toernooi uniek in Suid-Afrika. Agt spanne word hoofsaaklik uit matrikulante vanoor die hele Pretoria-gebied met die hulp van die Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging (BBHRV) gekies. Dié spanne word dan onder agt plaaslike klubs verdeel en hulle speel in die klubs se amptelike truie. Sommige van die Blou Bulle se beste skole-afrigters sal by die afrigting van die spanne betrokke wees.

Die toernooi skop op Saterdag 1 Julie af, wanner dit deel sal wees van die amptelike jaarlikse Hoërskole Bondedag. Dié dag word beskou as die laaste groot geleentheid vir Cravenweek-, Akademieweek- en Grand Khomoweek spanne vanoor die hele land om te slyp vir die nasionale weke wat in die wintervakansie plaasvind. Spanne van unies soos die Blou Bulle, Leeus, Valke, Pumas, Luiperds, Griekwas, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Griffons, Boland en Grens sal betrokke wees.

Volgens dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, sal die feit dat die eerste dag van die Assupolbeker toernooi saamval met die Nasionale Bondedag selfs groter betekenis aan dié toernooi gee.

“Seuns wat aan die Assupolbeker toernooi deelneem moet besef dat Loftus Versfeld Saterdag sal krioel van talentsoekers en daarom is dié dag ook ’n groot geleentheid vir hulle om raakgesien te word,” het hy by die bekendstelling van die toernooi gesê.

Wedstryde op die program van die Bondedag word op al vier die velde by Loftus Versfeld gespeel, terwyl die eerste rondte van die Assupolbeker toernooi tussen 08:00 en 12:45 op die B-veld sal plaasvind. Die tweede rondte wedstryde word op Maandag 3 Julie op Loftus Versfeld se B- en C-velde gespeel, terwyl die eindrondte op Woensdag 5 Julie op dieselfde velde sal plaasvind.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button