Local sportSport

Carltonbeker draaiboek hou by boeiende spanningslyn

Die vierde kandidaat vir vanjaar se Carltonbeker halfeindrondte sal eerskomende Saterdag in die laaste ligawedstryd van die seisoen bepaal word.

Geen Hollywood skrywer sou ’n beter draaiboek vir vanjaar se Carltonbeker liga kon skryf as die werklikheid wat die afgelope drie maande op klubrugby-velde in Pretoria en Rustenburg afgespeel het nie.

Terwyl daar slegs ’n enkele wedstryd in die ligafase oorbly, is die halfeindrondte kandidate steeds nie gefinaliseer nie. Trouens, al die aandag sal eerskomende naweek na Rustenburg verskuif, want die uitslag van die heel laaste ligawedstryd in vanjaar se toernooi sal uiteindelik bepaal wie die vierde halfeindrondte kandidaat sal wees.

Tukkies en Quins-Bobbies het hulle die afgelope naweek by Centurion gevoeg as die eerste drie klubs wat verseker het dat hulle kwalifiseer vir die halfeindrondte. Dié drie klubs en die Dragons, wat sesde op die punteleer sal eindig en nie kan kwalifiseer nie, het reeds hul ligabepalings afgehandel. Rustenburg Impala en Naka Bulle moet egter eerskomende naweek nog teen mekaar speel en dié wedstryd se uitslag sal ook die vierde halfeindrondte kandidaat bepaal.

* Tukkies was die eerste span wat by Centurion aangesluit het as halfeindrondte kandidaat toe hulle verlede Donderdag maklik met die Dragons afgereken het. Tuks het agt drieë gedruk vir ’n oorwinning van 48-0 oor die agterosse in die liga.

Met hierdie oorwinning het Tukkies seker gemaak dat hulle vir die halfeindrondte kwalifiseer. Dié span is nou op pad na die Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) toernooi in Johannesburg, waar hulle hul titel as kampioen sal verdedig voor die Carltonbeker halfeind.

* Saterdag het Quins-Bobbies se oorwinning van 37-20 nie net dié nuwe klub se plek in die halfeindrondte bespreek nie, maar hulle het indirek ook vir Naka Bulle ’n agterdeur oopgemaak om nog vir die uitspeelfase te kwalifiseer. Die feit dat Quins-Bobbies met meer as sewe punte gewen het én die Rustenburgers verhoed het om vier drieë te druk, het daartoe bygedra dat die spanningslyn na die laaste wedstryd in die ligafase verleng is.

Impala sou met twee bonuspunte kon kwalifiseer vir die halfeindrondte en dit sou hul komende wedstryd teen Naka Bulle tot ’n kragmeting van slegs akademiese belang gereduseer het.

Quins-Bobbies het met hul oorwinning seker gemaak dat hulle bo aan die punteleer sal eindig met 34 ligapunte. Hoewel Impala teoreties nog verby hulle kan skuif, sal die Noordwesters eerskomende naweek volpunte moet verdien teen Naka Bulle én met ’n punteverskil van meer as 75 moet wen.

Impala, wat tans 29 ligapunte het, kan egter tweede eindig deur sleg ’n oorwinning te behaal teen Naka Bulle. Dit sal genoeg wees om verby Centurion en Tuks te skuif, want dié twee klubs het met 31 ligapunte elk geëindig.

* Terwyl Quins-Bobbies besig was om Naka Bulle ’n guns te bewys in Groenkloof, het die manne van die Moot na Centurion opgeruk om vriend en vyand te verras met ’n merkwaardige oorwinning van 52-22 oor Centurion.

Dit is wel so dat die verdedigende kampioen geen druk op hulle gehad het nie, aangesien hulle die vorige week reeds gekwalifiseer het vir die halfeindrondte. Naka Bulle het egter skitterende rugby gespeel en hul agt drieë teen die drie van Centurion het gewys dat Sylverster Booysen en sy manne  besig is om op die regte tyd hul beste vorm te bereik.

Naka Bulle het nou 25 ligapunte. Dit beteken hulle Saterdag volpunte moet verdien, terwyl hulle terselfdertyd sal moet verhoed dat Impala meer as een bonuspunt kry. Die manne van die Moot het tans ’n gunstiger punteverskil as Impala. As hulle dus gelyk eindig op die punteleer, sal Naka Bulle deurdring met hul groter punteverskil.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button