Bulls val vas teen Kings op Loftus Versfeld
Die Southern Kings, wat Vrydag uit SuperRugby geskop is, het die Bulls Saterdagaand in Pretoria geskok met ’n oorwinning in die doodsnikke van hul wedstryd op Loftus Versfeld.
Die Bulls se opflikkering na verlede week se spog-oorwinning teen die Sharks was van korte duur en hulle het Saterdagaand op Loftus Versfeld terug gekom aarde toe, toe die Kings van die Oos-Kaap hulle met 31-30 geklop het.
Daar is vooraf reeds verwag dat die twee spanne sprankelrugby sou opdis. Met die verwikkelings die afgelope week in Suid-Afrikaanse Rugby weet almal nou hoe die toekoms lyk en nie een van hierdie twee spanne het enige druk op hulle gehad nie.
Dit was dus nie vreemd toe die manne sommer vroeg reeds begin het om die bal rond te gooi en met elke geleentheid aan te val nie.
Die Kings was egter in die eerste helfte die span wat die meeste sukses kon behaal met hul positiewe benadering. Makazole Mapimpi is na slegs agt minute se spel in die hoek oor die doellyn, nadat sy spanmaats vir hom ruimte geskep het om sy spoed te gebruik.
Daarna was die Kings se sterte in die lug en hulle het die druk teen die tuisspan laat opbou. Die Bulls het begin foute maak onder dié druk en die Kings het daarop geteer om nog twee keer die doellyn oor te steek in die eerste helfte. Die Bulls se probleme is vererger toe ’n skitter drie van Travis Ismael gekanselleer is weens ’n gevaarlike duikslag deur Jason Jenkins in die voorafgaande beweging.
Jenkins is afgestuur met ’n geel kaart en die Kings het die druk verhoog, waarna hul tweede en derde drie gevolg het.
Kort voor rustyd is die rolle omgeruil toe Wandile Mjekevu, vleuel van die Kings, afgestuur is met ’n geelkaart, nadat hy ook aan ’n gevaarlike duikslag suldig was. Sekondes voor die rustyd sirene afgegaan het kon die Bulls uit dié situasie voordeel trek toe Jenkins ironies genoeg oorgeduik het vir die tuisspan se eerste drie.
Teen rustyd was die Bulls steeds 10-22 agter en dit sou ’n spesiale poging verg om terug te kom in dié wedstryd.
Adriaan Strauss en sy manne het in die tweede helfte mooi terug gekom, en na enkele minute was die jong vleuel Duncan Matthews in die hoekie oor.
Daarna het die Bulls vir die grootste deel van die tweede helfte die spel oorheers, maar die Kings se verdediging het gehou. Die tuisspan was ook hul eie grootste vyand. Hulle het gesukkel om momentum op te bou en verskeie hanteerfoute op kritieke tye het hulle duur te staan gekom.
Toe Jaco Visagie vyf minute voor die einde oorduik vir die Bulls se derde drie, wou dit lyk of die tuisspan hierdie een sou deurtrek.
Die Kings se losskakel en kaptein, Lionel Cronjé, wat weer ’n sitterende wedstryd beleef het, het egter die laatse sê gehad, ná ’n effens besarre voorval met slegs twee minute se spel oor. Jannes Kirsten het ’n blaps gemaak in die doelgebied en die skeidsregter het ’n vyftree-skrum aan die Oos-Kapenaars toegeken. Daarna is Ruan Steenkamp gestraf weens onkantspel by die skrum en Cronjé kon die wenpunte met ’n strafdoel aanteken.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 30 Drieë: Jason Jenkins, Duncan Matthews, Jaco Visagie. Doelskoppe: Tian Schoeman (3) Strafdoele: Tian Schoeman (3).
KINGS: 31 Drieë: Makazole Mapimpi, Lionel Cronjé, Malcolm Jaer. Doelskoppe: Lionel Cronjé (2). Strafdoele: Lionel Cronjé (3). Skepdoel: Lionel Cronjé. (1)
Skeidsregter: Federico Anselmi
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:






