Centurion wen Assupolbeker skolerugby toernooi
Die Assupolbeker skolerugby toernooi is verlede week op Loftus Versfeld aangebied en rugby van hoogstaande gehalte is tydens dié weeklange toernooi opgedis.
Centurion Rugbyklub se span het verlede week puik rugby opgedis om die Assupolbeker te wen toe hulle die span van Quins-Bobbies met 45-0 kafgedraf het in die eindstryd van hierdie unieke skolerugby toernooi.
Daarmee het Centurion die vierde houer van die kampioenskap titel in dié toernooi geword.
Sowat 200 skoolseuns het vanjaar in agt spanne in die kleure van amptelike Bloubul klubs aan die toernooi deelgeneem. Die aksie in dié uitklop-toernooi het op Saterdag 1 Julie begin. Daarna het die wenners en verloorders van dag een verlede Maandag teen mekaar gespeel het. Centurion en Quins-Bobbies het toe as die enigste onoorwonne spanne op Woensdag 5 Julie sake in die eindstryd uitgespook.
Op dié dag het al die ander spanne ook uitgespeel om hul finale posisie in die toernooi te bepaal. Tuine het die Blue Diamonds geklop (24-19) in die wedstryd om die sewende en agtste plekke, Tukkies het Dragons in die uitspeelstryd om die vyfde en sede plekke uitgestof en Naka Bulle het TUT in ’n opwindende hoofvoorwedstryd met 21-17 die loef afgesteek om die derde plek in te neem.
Dié hoofvoorwedstryd het puik rugby opgedis. Naka Bulle was hoofsaaklik saamgestel uit skole van die Moot-area, terwyl Affies en Pretoria Boys High die meeste seuns vir TUT se span opgelewer het. Die wedstryd het regdeur wipplank gery en was tot in die laaste minuut in die weegskaal. Die hardwerkende flank, Nathan Coetzee, se drie kort voor die eindfluitjie het die oorwinning aan Naka Bulle besorg. Coetzee is ook as Man van die Wedstryd aangewys.
In die wedstryd om die sewende en agtste plekke is nóg ’n flank, Nico Coetzee van Tuine, as Man van die Wedstryd aangewys.
Tuks se vlugvoetige heelagter, Niel Tolmie, het ’n groot rol gespeel in sy span se oorwinning oor die Dragons en hy is welverdiend as Man van die Wedstryd bekroon.
Die eindstryd het werklik rugby van ’n baie hoë standaard opgelewer en verskeie seuns het uitgeblink. Centurion se losskakel, Miege Groenewald, is uiteindelik as Man van die Wedstryd aangewys.
Hierdie toernooi groei jaarliks in status en die Blou Bulle, Assupol en Spar moet gekomplimenteer word met hul poging om aan so baie seuns die geleentheid te gee om verteenwoordigende rugby te speel. Verteenwoordigers van die betrokke klubs, sowel as die skole waaruit die spelers gekies is, was dit eens dat die toernooi ’n reuse rol speel in die ontwikkeling en uitbou van rugby op hierdie vlak. Dit gee aan die seuns die kans om hul merk te maak te midde van talentjagters van klubs én ander verteenwoordigende spanne. Daar is algehele konsensus dat dié toernooi wondere verrig het vir klubrugby sedert dit in 2014 vir die eerste keer aangebied is, terwyl verskeie spelers al via dié toernooi naam gemaak het en geleenthede gekry het om op ’n hoër vlak te speel of om studiebeurse te verwerf.
Die spelers self was ook baie positief oor die toernooi en verskeie spelers met wie Rekord gesels het beskou dit as ’n goeie geleentheid om hul rugbyloopbane nuwe stukrag te gee.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:










