Local sportSport

Naka Bulle klop Impala, kwalifiseer vir Carlton halfeind

Naka Bulle het hulle die afgelope naweek by Quins-Bobbies, Centurion en Tukkies aangesluit as die laaste kwalifiseerder vir vanjaar se Carltonbeker halfeindrondte.

Naka Bulle rugbyklub se eerstespan het die afgelope twee weke die byna onmoontlike vermag en daardeur gekwalifiseer om op 22 Julie aan die Carltonbeker halfeindrondte deel te neem.

Nadat hulle verlede week agt drieë teen Centurion gedruk het vir ’n bonuspunt oorwinning, het hulle die afgelope naweek die laaste moeilike hekkie op pad na die Carltonbeker halfeindrondte oorgekom met nóg ’n oorwinning met ’n bonuspunt oor Rustenburg Impala.

Dié klub uit die Moot se afrigters, Marinus van der Wath, Anthony Oberholzer en Heinrich Pretorius het wondere verrig in die tweede rondte van vanjaar se toernooi, nadat hulle nie goed begin het nie en drie uit hul vyf wedstryde in die eerste rondte verloor het.

Sylverster Booysen en sy manne het Impala die afgelope naweek met 29-20 geklop. Naka Bulle het vier keer gaan druk, terwyl Impala slegs twee keer die doellyn kon haal.

Die merkwaardige van hierdie oorwinning is dat dit op die Noordwesters se tuisveld plaasgevind het en dat Impala, die nasionale klubkampioen, daardeur verhoed is om vir die Carltonbeker halfeindrondte te kwalifiseer.

Naka Bulle sal die halfeindrondte dus met selfvertroue kan ingaan, nadat hulle in die tweede rondte van vanjaar se toernooi nou reeds met die huidige Varsitybeker kampioen (Tukkies), die huidige Gouebeker kampioen (Impala) en die verdedigende Carltonbeker kampioen (Centurion) afgereken het.

Quins-Bobbies, wat bo aan die punteleer geëindig het en dus ook later vanjaar die Blou Bulle in die nasionale Gouebeker toernooi sal verteenwoordig, sal Naka Bulle se teenstander wees in die een Carltonbeker halfeindstryd. In die ander halfeindstryd sal Centurion en Tukkies sake uitspook vir ’n plek in die eindstryd.

Impala is in die gelukkige posisie dat hulle as verdedigende kampioen outomaties vir die Gouebeker toernooi kwalifiseer. Dié toernooi begin op 9 September.

Die standaard van vanjaar se Carltonbeker liga word beklemtoon as daar ’n ontleding gedoen word van die twee spanne wat in Saterdag se groot stryd in Rustenburg betrokke was. Albei spanne het gewemel van spelers wat al op provinsiale vlak in beide junior en senior ligas naam gemaak het. ’n Man soos Justin Wheeler, kaptein van Impala, het selfs al SupeRugby vir die Lions gespeel.

Daar was ook verskeie spelers in albei spanne wat die afgelope jare Varsitybeker rugby gespeel het. Sommige van die spelers wat in aksie was het ook al ondervinding in Europa opgedoen.

Quins-Bobbies, Centurion en Tukkies, die ander drie spanne wat saam met Naka Bulle by die Carltonbeker halfeindrondte op 22 Julie betrokke sal wees, staan ook nie terug in hierdie verband nie. Hulle beskik ook oor verskeie spelers wat al ondervinding opgedoen het in die professionele arena.

Hierdie feit beteken dat die halfeindstryde op 22 Julie klubrugby van hoogstaande gehate sal oplewer. Die verloop van die Carltonliga vanjaar het bewys dat dié liga in 2017 ten opsigte van die standaard van die rugby wat opgedis is enige tyd met die Gouebeker toernooi kan saampraat. Rustenburg Impala, wat wemel van spelers met provinsiale ondervinding en die verdedigende Gouebeker is, kon immers nie die Carltonbeker halfeindrondte haal nie.

Klubrugby administrateurs in Pretoria verdien dus ’n klop op die skouer vir dit wat vanjaar bereik is in die Carltonbeker liga. Noudat die Bulls nie die SupeRugby uitspeelrondtes gehaal het nie, kan rugby-ondersteuners van Pretoria gerus op 22 Julie klubrugby ondersteun deur die halfeindwedstryde op Loftus Versfeld by te woon. Toegang is gratis.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button