Nasionale Senior en Junior Kadette kampioenskapstoernooi lok honderde stoeiers na Pretoria
Die Nasionale Senior en Junior Kadette stoeikampioenskap is die afgelope naweek in Pretoria aangebied.
Noord-Gauteng Stoei se hoofkwartier in Menlopark was die afgelope Saterdag ’n miernes van bedrywighede toe meer as 300 stoeiers vanoor die hele land daar saamgetrek het vir die jaarlikse Nasionale Senior en Junior Kadette kampioenskapstoernooi.
Veertien van Suid-Afrika se stoeiverenigings was by hierdie toernooi verteenwoordig. Die toernooi is oor twee dae aangebied. Vrydag is daar hoofsaaklik gekonsentreer op gevegte in die Grieks-Romeinse styl, terwyl die meer gewilde Vrystyl Saterdag aan die beurt gekom het.
Volgens die organiseerders word die standaard van die toernooi beklemtoon deur die gehalte van die stoeiers wat ingeskryf het vir die twee dae se aksie. Daar was verskeie Suid-Afrikaanse- en Afrika kampioene in aksie, terwyl stoeiers wat betrokke was by die Statebond Spele ook opgedaag het. Selfs ’n deelnemers aan die vorige Jeug Olimpiese Spele in China, Reynard Louw, was onder die stoeiers by die kampioenskap.
Die groot aantal meisies en vroue wat ingeskryf het vir die toernooi beklemtoon die groei in gewildheid van hierdie sport onder die skoner geslag.
Die jong kadette het in 10 verskillende gewigsafdelings meegeding, terwyl daar ook junior stoeiers in 9 gewigsafdelings en seniors in 8 gewigsafdelings op drie matte in aksie was.
Stoei Gauteng-Noord het weer gewys dat hulle leiers is in Suid-Afrika ten opsigte van die aanbieding van toernooie soos hierdie en die program het vlot verloop, ten spyte van die groot opkoms. Moderne tegnologie in die vorm van digitale kameras wat via ’n sentrale rekenaarstelsel die aksie op die stoeimatte vasgevang het, is ook by die toernooi ingespan om tegniese beslissings deur beamptes te vergemaklik.
Intussen het daar opgewondenheid geeheers onder ’n uitgesoekte groepie stoeiers by die toernooi wat deel is van ’n nasionale span wat hierdie week na Spanje vertrek om aan die Spaanse Grand Prix toernooi én ’n elite oefenkamp deel te neem. Drie plaaslike uitblinkers van Pretoria is ook deel van hierdie span. Hulle is Dylan Marais, Brandon Kidson en Leanco Stans. Een van Gauteng-Noord se top administrateurs, Marcel de Witt, sal die spanbestuurder wees.
Stans, wat tans by TuksStoei betrokke is, word beskou as een van Suid-Afrika se beste vrouestoeiers en sy was onlangs in die nuus toe sy uitgenooi is om aan ’n elite oefenkamp in Finland deel te neem.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





