Local sportSport

Curriebeker toernooi kan die Blou Bulle se toekoms bepaal

Die Blou Bulle se Curriebeker veldtog van 2017 sal deurslaggewend wees vir die toekoms van rugby in Pretoria.

Die Bulls se SupeRugby veldtog van 2017 is Saterdag op Loftus Versfeld met ’n nederlaag van 33-41 teen die Stormers afgesluit en dit sal amptelik in die geskiedenisboeke aangeteken word as dié trotste span se swakste vertoning sedert 2002.

Die volle besonderhede van alles wat aanleiding gegee het tot die rampspoedige seisoen van 2017 sal sekerlik eendag volledig geskryf kan word. Heel voorspelbaar is daar natuurlik steeds heelwat sofa-pokkels wat al vloekende en skellende al die skuld op Nollis Marais wil pak. Dis dieselfde mense wat twee weke gelede ná die Bulls se vertoning in Durban teen die Sharks breedvoerig uitgewei het dat John Mitchel se hand reeds te sien is in die Bulls se goeie vertoning. Ditto vir die positiewe benadering waarmee die Bulls Saterdag vyf drieë teen die Stormers gaan druk het.

As die feit aan dié mense genoem word dat Mitchell hierdie week – ná die afhandeling van die Bulls se SupeRugby verpligtinge – eers op Loftus Versfeld aangemeld het vir diens, sal dit wel op een of ander manier weggepraat word.

Die foute wat gemaak is en die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die feit dat die Bulls as span én die Blou Bulle as instelling tans op die rand van die afgrond weifel, is egter vir eers geskiedenis.  Terwyl 2002 hierbo genoem is as die vorige algehele laagtepunt vir die Bulls, kan ’n mens gerus ’n les uit daardie tydperk gaan leer. Dit is tog juis ná daardie SupeRugby veldtog 15 jaar gelede dat Heyneke Meyer en sy jong spannetjie die kurwe opwaarts laat draai het in die Curriebeker toernooi. Hulle het daardie jaar die eerste van drie agtereenvolgende Curriebekers gewen en die kern van Meyer se span wat as groentjies in 2002 so sleg gevaar het in SupeRugby, het vyf jaar later die eerste Suid-Afrikaanse span geword om as die suidelike halfrond se kampioene gekroon te word.

As Nollis Marais dus sy reeds bewese potensiaal as rugby-afrigter wil verwesenlik, én as die Blou Bulle Maatskappy die wolwe van die voordeur af weg wil hou, sal sy span vanjaar die Curriebeker móét wen. Daar is baie jong spelers op Loftus Versfeld wat steeds in Marais glo, net soos die jong manne wat later Supersterre geword het nadat hulle as groentjies saam met Meyer begin het.

As Marais daarin kan slaag om met die jong manne tot sy beskikking vanjaar die Curriebeker te wen en dan die dienste van potensiële supersterre soos Conraad van Vuuren (21), Jon-Roy Jenkinson (26), Jaco Visagie (25), Lizo Gqoboka (27), Jason Jenkins (21), RG Snyman (22) en Ruben van Heeden (19) onder die vaste vyf, asook Shaun Adendorff (25), Ruan Steenkamp (24), Roelof Smit (24), Jannes Kirsten (23) en Hanro Liebenberg (21) onder die lostrio vir vier tot vyf seisoene te behou, dink net aan die pak voorspelers wat hy tot sy beskikking sal hê teen die einde van die dekade.

Voeg hierby ’n agterlyn wat die talent insluit van manne soos André Warner (23), Embrose Papier (20), Tinus de Beer (21), Burger Odendaal (24), Franco Naudé (21), Dries Swanepoel (24), Duncan Matthews (23) en Warrick Gelant (22) en jy kan ’n kampioenspan bou wat die ondersteuners weer kan laat terugkeer na Loftus Versfeld.

Soos reeds genoem, sal die vertroue eers weer van onder gebou moet word. Al die klein jakkalsies wat die wingerd die afgelope jare op Loftus verniel het én die enkele groter struikelblokke sal aangespreek moet word en daar sal weer ’n gelukkige rugbyfamilie in Kirknesstraat gevestig moet word. As dít nie gebeur nie, sal selfs John Mitchell ook misluk.

Wanneer die huis nie in orde is nie, kan jy maar as die beste afrigter ter wêreld beskou word, maar jy sal sukkel om vordering te toon. Neem maar Eddie Jones as voorbeeld. Hy word deesdae as ’n suksesvolle rugbygenie beskou, maar daar is sekerlik nog ’n paar brompotte in Brisbane wat (net soos Nollis Marais se grootste vyande) steeds glo Jones is eintlik ’n idioot ná sy rampspoedige 2007-seisoen by die Reds tien jaar gelede, wat met slegs twee oorwinnings en ’n loesing van 92-3 teen die Bulls geëindig het.

Dit klink dalk verregaande, maar die toekoms van die magtige Blou Bul kan van die Curriebeker veldtog van 2017 afhang. Vergeet maar van die mooipraatjies oor die sogenaamde twee miljoen ondersteuners wat met onwetenskaplike opnames vanuit ’n telefoon-oproepsentrum bepaal word. Lok eers die betroubare tradisionele Bloubul ondersteuner terug na Loftus Versfeld, want as hy sy rug finaal op die Bulle draai, behoort Loftus Versfeld binne ’n paar jaar aan een of ander handelsbank en die Blou Bulle speel sonder ’n borg in die Curriebeker se B-afdeling…

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button