Pretorianers blink uit by onderwater hokkie wêreldkampioenskap
Twee jong meisies van Pretoria kan onderwater hokkie geskiedenis maak by die o.23 wêreldkampioenskap wat tans in Australië aangebied word.
Hoewel onderwater hokkie waarskynlik nie een van die bekendste sportsoorte is in terme van toeskouers en belangstelling nie, presteer die Suid-Afrikaanse spanne besonder goed op die internasionale verhoog.
Twee jong Pretorianers, Zandré Coetzee en Eleanor de Kock, is tans in Hobart, Australië saam met die Suid-Afrikaanse vroue o.23 span, wat deelneem aan die wêreldkampioenskap. Coetzee en De Kock hoop om vanjaar geskiedenis te maak deur die eerste Suid-Afrikaners te word om ’n wêreldkampioenskap medalje in drie verskillende ouderdomskategorië te wen. Dié twee was deel van die Suid-Afrikaanse o.19 meisies wat in 2015 in Spanje as wêreldkampioen gekroon is, terwyl hulle albei ook verlede jaar in Stellenbosch deel was van die nasionale elite vrouespan wat die wêreldkampioenskap gewen het.
Vier Suid-Afrikaanse spanne is betrokke by die huidige kampioenskappe, wat in Australië aangebied word vir o.19 en o.23 spanne. De Kock is die kaptein van Suid-Afrika se o.23 vrouespan, terwyl Coetzee een van die sterre in dié span is.
Teen die einde van die afgelope naweek was Coetzee reeds die voorste puntemaker in die o.23 toernooi. Sy het in haar span se eerste vyf wedstryde reeds 9 doele aangeteken. Dié span het slegs een van hul eerste vyf wedstyde verloor. In die proses het hulle reeds met lande soos Argentinië, Colombië, Frankryk en Kanada afgereken. Hul enigste nederlaag was teen Nieu-Seeland en dit lyk tans of hulle weer die Kiwis in die finaal kan aandurf as alles volgens plan verloop.
Suid-Afrika se o.19 meisies was teen die einde van die naweek ook steeds in die prentjie vir die uitspeelrondte, terwyl die die mans o.19 span, wat ook enkele Pretorianers in hul geledere het, nog ’n kans het om vanjaar in Australië weer die hoogtepunt van 2011 te herhaal toe dié span ook as wêreldkampioen gekroon is.
Ongelukkig het die o.23 mansspan egter effens gesukkel en hulle kon nie die mas opkom teen semi-professionele spanne van lande soos Australië, Nieu-Seeland en Kanada nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

