Quins-Bobbies en Tuks deur na Carltonbeker eindstryd
’n Nuwe kampioen word op 5 Augustus in die Carltonbeker liga gekroon, nadat die verdedigers van dié titel, Centurion, Saterdag in die halfeindrondte uitgeskakel is.
Die Carltonbeker kry vanjaar ’n nuwe kampioen, want Tukkies en Quins-Bobbies ontmoet mekaar op 5 Augustus in die eindstryd van 2017 se Carltonbeker toernooi.
In die afgelope Saterdag se twee klipharde en spannende Carltonbeker halfeindstryde op Loftus Versfeld het dié twee klubs se eerstespanne onderskeidelik met Centurion en Naka Bulle afgereken om deur te dring na vanjaar se eindstryd.
Die twee halfeindstryde was albei ’n vertoonvenster vir vanjaar se Carltonbeker toernooi en beide dié wedstryde was tot in die laaste sekondes nog in die weegskaal. Die Carltonbeker liga van 2017 sal beslis onthou word as die taaiste in baie jare en enige van die vier halfeindstryd kandidate sou waardige wenners in vanjaar se toernooi gewees het.
Albei die kragmetings het ook weer beklemtoon dat akkurate skopwerk na die pale deurslaggewend is in uitspeelstryde soos hierdie.
* Die stryd tussen Tukkies en Centurion was ’n naelbytstryd van die eerste afskop af en die telbord het wipplank gery tot teen die einde.
Terwyl Tuks se heelagter, Abri Reynolds, net een doelskop uit die hoek misgeskop het, het Centurion se losskakel, Steven Moir, 10 baie belangrike punte verbeur deur twee doelskoppe en twee strafdoele mis te skop.
Hoewel Centurion dus vier drieë gedruk het teen Tuks se drie, was skopwerk na die pale die deurslag vir die studente.
Ná ’n wisselvallige seisoen het Tukkies weer gewys dat hulle die vermoë het om in wedstryde soos hierdie die knoop deur te haak wanner dit saakmaak. Die studente was halfpad deur die tweede helfte nog met 14-27 agter, maar twee drieë in die laaste kwart van die wedstryd het die deurslag gegee.
Die wedstryd het besonder spannend geëindig en Centurion het so byna daarin geslaag om in die doodsnikke die wenpunte aan te teken. Moir het egter in die laaste drie minute twee keer met strafskoppe na die pale misluk en Tukkies het met ’n enkele punt (28-27) as wenners van die veld gestap.
* Die tweede halfeindstryd was nóg ’n riller wat eers twee minute voor die eindfluitjie met ’n strafdoel in die guns van Quins-Bobbies beklink is.
Dié twee spanne het in alle aspekte besonder goed teen mekaar opgeweeg en elkeen het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Die res van die punte is met strafdoele aangeteken. Hansie Graaff van Naka Bulle het egter 11 punte met skoppe na die pale verbeur, terwyl Andell Loubser van Quins-Bobbies ook twee strafdoele en ’n doelskop skeefgetrek het
Dié telbord was sedert die 28ste minuut in die tweede helfte gelykop met 21 punte elk en op ’n stadium wou dit lyk of daar dalk ekstra tyd gespeel sou moes word om ’n wenner te bepaal. Die eer om die wenpunte aan te teken het egter kort voor die eindfluitjie vir Quins-Bobbies se reserwe heelagter, Morné Hugo, te beurt geval toe hy ’n strafdoel deur die pale gejaag het om die eindtelling op 24-21 in die guns van sy span te staan te bring.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
