Oos-Moot wen derde agtereenvolgende Stadsbeker titel
Drie van Oos-Moot se rugbyspanne het Saterdag in die Stadsbeker eindstryde silwerware vir hul skool gewen.
’n Derde agtereenvolgende Stadsbeker titel in die Groot Skole liga vir die eerstespan én drie kampioenspanne vir die skool.
Dít som die twee gelyktydige driekunste op wat die Hoërskool Oos-Moot se rugbyspanne Saterdag op hul tuisveld vermag het.
Met hierdie prestasies het Oos-Moot onbetwisbaar bewys dat hulle tans nie hul gelyke op die rugbyveld het onder die Groot Skole in Pretoria nie. Verlede jaar het Oos-Moot se eerstes met Pretoria-Noord in die eindstryd afgereken, terwyl hulle in 2015 vir Overkruin getroef het om as kampioen gekroon te word.
Oos-Moot se eerstespan het Tuine Saterdag met 29-12 geklop, terwyl hul o.16 span Overkruin met 18-5 verslaan het. Dié skool se o.15’s is ook as kampioen gekroon toe hulle Midstream College met 23-7 kafgedraf het. Die enigste liga waarin Oos-Moot nié met ’n trofee kan spog nie is by die o.14’s, waar Midstream vir Overkruin met 18-17 getroef het om as kampioen gekroon te word.
Hoewel Oos-Moot se eerstespan vanjaar hul liga oorheers het en daar verwag is dat hulle redelik maklik met Tuine sou afreken, moes hulle egter hard werk vir hierdie oorwinning. Tuine het hulle verras met ’n reuse aanslag en die seuns uit die Weste het die tuisskare soms benoud gehad met hul inklimspel op die aanval én die verdediging. Elke span het uiteindelik twee keer gaan druk, maar Oos-Moot se kaptein en binnesenter, Eddie Ludick, se 19 punte met sy akkurate skopstewel het die verskil gemaak.
Die intensiteit op die veld was besonder hoog en veral die twee pakke voorspelers het mekaar behoorlik aangevat. Die humeure het ook soms opgevlam en die skeidsregter moes selfs ’n paar geelkaarte uitdeel in die tweede helfte. Ludick kon egter daarin slaag om in hierdie tydperk die wedstryd te beklink met twee strafdoele in die laaste tien minute, wat sy span se telling buite Tuine se bereik geplaas het.
Saam met Ludick het losskakel Julian Kokt netjiese spel vir Oos-Moot gelewer, terwyl die vuurvreter haker, Eduan Swart (wat later flank gaan speel het), en die woelige flank, Werner Diedericks, voorlangs hard gewerk het.
Vir Tuine het die slot Christiaan Westerveld regdeur in die voorste linie geveg, terwyl die afgeronde loskopstut, Henrico Snyman, gewys het waarom die Blou Bulle se hoërskole-keurders dalk in die toekoms ’n punt daarvan moet maak om dieper te delf om ware talent in Pretoria raak te sien. Tuine se heelagter, PJ Barnard, het ook ’n puik vertoning gelewer en hy het sy opponente laat bontstaan met sy ondernemende spel uit die laaste vesting.
Die twee spanne sal nou albei voortveg om ook die VirSeker Beker in die Noordvaal liga te probeer wen.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



