Pine Pienaar word Klofies se sporthoof
Die gewese Bloubul afrigter, Pine Pienaar, word op 1 Januarie volgende jaar die nuwe sporthoof by Hoërskool Waterkloof.
Die Hoërskool Waterkloof het ’n groot vis aan die hoek gekry toe hulle die voormalige hoofafrigter van die Blou Bulle se Curriebekerspan, Pine Pienaar, as die skool se nuwe sporthoof aangestel het.
Pienaar, wat sedert 2011 in diens van die Blou Bulle was, keer terug na skolerugby waar hy reeds as student sy loopbaan as rugbyafrigter by Grey Kollege in Bloemfontein begin het. Hy was die afgelope paar seisoene die Bulls en die Blou Bulle se verdedigingsafriger in die SuperRugby- en Curriebeker toernooie.
Die skool het ook aangekondig dat Sean Finaughty as Klofies se nuwe hokkiedirekteur aangestel is, terwyl Kaila-Ron Willemse die skool se nuwe hoofafrigter van meisies-hokkie word. Pienaar, Finaughty en Willemse sal aldrie op 1 Januarie 2018 in hul nuwe poste by die Klofies begin.
Pienaar het as student aan die Universiteit van die Vrystaat reeds by die afrigting van rugbyspanne by Grey Kollege betrokke geraak. Na sy studies het hy in 2000 sy voltydse loopbaan as rugbyafrigter by die Universiteit van die Vrystaat begin, waar hy by die Shimlas se o.19 span betrokke was. Daarna het hy Grey Kollege se eerstespan onder hande geneem, voordat hy deur die Cheetahs gewerf is. Hy het groot sukses met die Cheetahs se o.21’s en hul Vodacombekerspan behaal en hy is later ook by die Junior Springbokke betrek. In 2011 is hy deur die Blou Bulle na Pretoria gelok.
Pienaar sal verantwoordelik wees vir die bestuur van die sportkantoor by Hoërskool Waterkloof en die koördinering, ontwikkeling en posisionering van alle sportsoorte.
Sean Finaughty is reeds sedert 2015 as hokkie-afrigter en sportwetenskaplike by die skool betrokke en het ‘n bewese lys van vorige prestasie en uitstekende kwalifikasies. Hy is ook as afrigter betrokke by die Chippas Hokkieklub, terwyl hy boonop ‘n gekwalifiseerde hokkieskeidsregter is.
Willemse is ‘n gekwalifiseerde biokinetikus. Sy is sedert 2013 ‘n senior Suid-Afrikaanse dameshokkiespeler en het ook vir verskeie ander spanne soos die Universiteit van Johannesburg se eerste dameshokkiespan, die Gauteng Senior hokkiespan en die Winelands Wings Premierhokkieligaspanne gespeel. Sy is ‘n bekwame afrigter wat vanaf 2011 by afrigting van junior spanne betrokke is en het vele toekennings gedurende haar hokkieloopbaan ontvang.
Willemse sal primêr vir die ontwikkeling en posisionering van dogtershokkie by die skool verantwoordelik wees.
Die hoof van Waterkloof, Daan Potgieter, is van mening dat dié aanstellings ‘n nuwe era vir vir die skool se sportprestasie en die ontwikkeling van jong talent sal inlui.
“Die nuwe aanstellings is net weer ‘n bewys van Hoërskool Waterkloof se ononderhandelbare strewe na uitnemendheid op alle vlakke en ons is vol vertroue dat dié nuwe personeel by ons sportkantoor ook ‘n sinvolle bydrae tot die doelwitte en prestasie van die skool se leerders sal maak,” het Potgieter gesê.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: