Centurion Rugbyklub word nuwe basis vir Wally Hayward Marathon op Werkersdag
Atlete wat deelneem aan die gewilde Wally Hayward marathon sal weer vroegoggend op Werkersdag die strate van Centurion aandurf.

Alpha Centurion Hardlopers en Stappers (ACRW) bied vanjaar op Werkersdag vir die 42ste keer die jaarlikse Miway Wally Hayward Marathon aan.
Dié standaard marathon (42,2km) is onder atlete algemeen bekend as “Die Wally”. Die organiseerders bied aan atlete wat nie ‘n standaard marathon wil aandurf nie ook die opsie van ‘n 21.1km halfmarathon, ‘n 10km padwedloop of ‘n 5km pretdraf en ‘n 1km wedloop vir kinders.
Die organiseerders moes vanjaar noodgedwonge die basis van die wedloop (wegspring en eindpunt) na ‘n nuwe perseel skuif. Die wedloop sal dus vanjaar vanaf die terrein van die Centurion Rugbyklub plaasvind.
Dié terrein is geleë reg langs SuperSportpark in Weststraat, Centurion. Die roete van die wedloop moes ook aangepas word, maar dié aanpassings is gering en slegs gedoen weens die nuwe basis.

Hoewel die grootste deel van die roete dieselfde bly, het die organiseerders egter wel besluit om die wedloop vanjaar só aan te bied dat atlete die roete vanuit die teenoorgestelde kant as in die verlede sal aandurf. Voldoende waterpunte sal op die roete beskikbaar wees.
Die Wally sal dus volgens alle aanduidings vanjaar effens makliker wees vir die atlete, terwyl dit steeds ‘n gewilde wedloop bly vir atlete wat op hierdie laat stadium steeds vir die Comrades Marathon wil kwalifiseer. Die wedloop is ook deel van baie Comrades atlete in Gauteng se voorbereiding vir die Comrades.
Voldoende parkering is oral om die rugbyklub beskikbaar en die Centurion Mall is ook binne loopafstand van die klub vir laatkommers wat nie rondom die klub parkering kry nie. Parkering word deur liefdadigheidsorganisasies as ‘n fondsinsamelingsprojek bestuur, terwyl die rugbyklub ook hierin sal deel.
Deelnemersgetalle sal tot 13 000 beperk word om te verseker dat daar voldoende parkering is en dat die infrastruktuur die toeloop kan hanteer. Die standaard marathon, wat beperk is tot 4500 deelnemers, was weke gelede reeds uitverkoop.
Vermaak vir kinders en stalletjies met verversings sal by die eindpunt beskikbaar wees. Geen glasbottels sal op die rugbyveld toegelaat word nie en geen braaivleisvure mag aangesteek word nie.
Meer inligting oor die wedloop is beskikbaar by www.wally.co.za
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
