Brumbies uitoorlê hulpelose Bulls op Loftus
Die Bulls se kans om vanjaar die uitspeelrondtes van die SuperRugby toernooi te haal is waarskynlik neusie verby ná hul skok nederlaag teen die Brumbies Saterdagmiddag op Loftus Versfeld.
Bulls ondersteuners se hoop op glorie in die SuperRugby toernooi van 2018 het Saterdagmiddag in frustrasie en teleurstelling geëindig toe die Brumbies van Australië hulle teen alle verwagting in met 38-28 geklop het.
Hoewel John Mitchell se troepe twee keer kon gaan druk in die eerste hefte, was dit ‘n hoogs frustrerende 40 minute van verspeelde kanse vir die ondersteuners, maar dit was net ‘n voorsmakie vir wat nog sou kom.
Die tuisspan het puik begin en van die afskop af die bal lug gegee. Vier minute later het Handré Pollard oorgeduik vir die eerste drie van die wedstryd, nadat hy die verdediging met netjiese voetwerk kon klop.
Ongelukkig is die Bulls direk vanaf die volgende afskop aan die slaap gevang toe hulle besit verloor het en die Aussies kon blitsvinning met ‘n teenaanval begin. Binnesenter Kyle Godwin het die beweging afgerond met ‘n netjiese drie, wat die manne in Blou se goeie begin onmiddelik ongedaan gemaak het.
Nadat Roelof Smit die Pretorianers se tweede drie halfpad deur die eerste helfte gaan druk het, het die frustrasie behoorlik begin opbou.
Burger Odendaal en sy manne het kamp opgeslaan in hul teenstanders se kwartgebied en die grootste deel van die laaste twinting minute voor rustyd daar spandeer. Tog kon hulle geen punte wys vir hul moeite nie.
Die Brumbies het beslis hul huiswerk gedoen ten opsigte van ‘n teenvoeter vir die Bulls se dryfmaal bewegings vanaf lynstaanbesit. Hier het die ou jakkals, David Pocock, reuse werk gedoen en die Bulls kon eenvoudig nie deurbreek as hy eers sy bonkige lyf in die pad gekry en sy sterk arms om die bal geklem het nie.
Ongelukkig het die tuisspan ook die kort-skoppies oordoen wanneer hulle wel die bal agtertoe laat loop het. Dit het nooit werklik vrugte afgewerp nie en die Aussies het telkens met gevaarlike teenaanvalle begin as hulle só besit in die hande kon kry.
Toe Lachlan McCaffrey twee minute na rustyd in die hoek oorduik vir die Brumbies se tweede drie, het dit duidelik geword dat die manne van Canberra op ‘n missie was om hul toer na Suid-Afrika met ‘n oorwinning af te sluit.
Die Bulls, daarenteen, het voortgeploeter. Hier en daar het ‘n ligpunt na vore gekom, maar oor die algemeen was daar nie veel om oor opgewonde te raak nie. Dit was byna asof die Bulls se kwale van die afgelope paar seisoene teruggekeer het om by hulle te spook. Hulle kon eenvoudig nie momentum opbou nie en elke keer as dinge belowend wou lyk, het hulle besit op een of ander manier afgestaan.
Geskokte ondersteuners se hoop het opgevlam toe die besoekers se haker, Folau Faingaa, na sowat 25 minute in die tweede helfte met ‘n rooikaart afgestuur is ná roekelose spel by die afbreekpunt én ‘n kopstamp teen ‘n Bulls speler.
Dié situasie het egter tot groter ontnugtering gelei, toe die manne van Canberra in die laaste tien minute twee onbeantwoorde drieë kon druk met net 14 man op die veld.
Die koeël was deur die kerk en nóg ‘n mislukte seisoen staar getroue Bulls ondersteuners in die gesig.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 28 Drieë: Handré Pollard, Roelof Smit, Johnny Kotze. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Handré Pollard (3)
BRUMBIES: 38 Drieë: Kyle Godwin, Lachlan McCaffrey, Folau Faingaa, Tom Banks, Andy Muirhead. Doelskoppe: Christian Lealiifano (3), Wharenui Hawera. Strafdoele: Christian Lealiifano (1)
Skeidsregter: Marius van der Westhuizen
https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/1777145629010512/
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.








