Local sportSport

Tuks is eerste kampioen van nuwe Super Klubliga

Tukkies se rugbyspan is die eerste kampioen in die nuwe interprovinsiale Super Klubliga.

Tukkies het hul 2018 seisoen in die nuwe Super Klubliga onoorwonne afgesluit toe hulle Saterdag as die eerste kampioen van dié interprovinsiale liga gekroon is.

Nico Luus se manne het ABE Midas Naka Bulle met 29-9 in die eindstryd op Loftus Versfeld geklop om daarmee ‘n perfekte seisoen in die Carltonbeker en Super Klubliga af te sluit.

Hoewel Tuks weens hul onoorwonne rekord deur die seisoen as oorweldigende gunsteling op die veld gedraf het, moes hulle hard werk om hierdie oorwinning te beklink.

ABE Midas Naka Bulle was teen rustyd nog met 9-6 voor. Die wedstryd was selfs halfpad deur die tweede helfte nog in die weegskaal met Tuks wat op daardie stadium die voortou geneem het (12-9) ná twee strafdoele deur hul afgeronde losskakel, Steven Moir.

Die eerste drie in dié klipharde eindstryd is eers na 24 minute in die tweede helfte gedruk toe Tuks se haastige linkervleuel, Stefan Coetzee, deurgenael het om sy span se voorsprong te vergroot.

Daarna het die manne van die Moot hard probeer om terug te kom in die wedstryd, maar net soos in die nie-amptelike Carltonbeker eindstryd ‘n maand gelede, het Tukkies se goedgedrilde span die skroewe begin vasdraai en hul teenstanders met intense druk tot foute gedwing.

Koue en winderige weerstoestande tydens die wedstryd het bygedra tot die feit dat dit nooit werklik ‘n skouspel was nie en hoofsaaklik deur die skopskoene van die twee losskakels bepaal is. In hierdie opsig het Moir sy tweestryd met ABE Midas Naka Bulle se Jean Grobler loshande gewen. Hy het spel netjies beheer met sy geleerde skopvoet en selfs toe sy span in die tweede helfte teen die sterk wind moes speel, het hy steeds daarin geslaag om die verloop van die spel te dikteer.

Hoewel die weersomstandighede moeilik was, kon sake tog anders verloop het as Grobler ‘n paar makliker strafdoele rondom rustyd kon oorskop. Daarteenoor het Moir selfs met ‘n skepdoel geslaag, wat op ‘n kritieke tyd laat in die wedstryd die druk teen ABE Midas Naka Bulle laat opbou het.

Behalwe vir Moir het Tuks se heelagter, WJ Strydom, weer gewys dat hy goed genoeg is om Curriebeker rugby te kan speel, terwyl die studente se twee hardwerkende slotte, Pieter Griesel en Brian Leitch ook weer uitgestaan het.

Vir ABE Midas Naka Bulle het niemand harder probeer as die veteraan losvoorspeler, Louis van Biljon, nie. Hy het weer soos ‘n dieselenjin sonder ophou gewerk om die teenstanders te terroriseer op die aanval sowel as die verdediging.

Op skrumskakel was Jerome Bastick die ander groot uitblinker in die verloorspan.  Dié gewese Bloubul onder-19 speler het met ‘n puik vertoning ook gewys dat hy nog op ‘n hoër vlak kan speel as hy weer die kans kry.

Marinus van der Watt en Naas Rossouw se span kan egter hul koppe hoog hou ná ’n puik seisoen. Hoewel hulle nie in hul 21ste bestaansjaar daarin kon slaag om enige van die twee groot ligas te wen nie, het hulle tog groot bresse geslaan om die standaard van klubrugby in Pretoria op ‘n baie hoë vlak te hou. Daarvoor is hulle beloon met die eer om die Blou Bulle vroeg volgende jaar in die Gouebeker toernooi – die nasionale klubkampioenskap vir klubs wat nie aan ‘n tersiêre instelling gekoppel is nie – te verteenwoordig.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button