Local sportSport

Hoërskool Eldorainge wen Virseker Beker Plaatliga

Hoërskool Eldoraigne se eerste rugbyspan is Saterdag as die Virsekerbeker Plaatliga kampioen gekroon.

Vreugdevure het Saterdagaand hoog gebrand by die Hoërskool Eldoraigne, ten spyte van die koue en winderige weer wat die afgelope naweek in Pretoria ervaar is.

Die rede vir hierdie feesvieringe was dat dié skool as kampioen gekroon is in die Virseker Beker Plaatliga, nadat hul eerstespan Saterdag in die Tuks Rugbystadion met Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp afgereken het in die eindstryd van die toernooi.

Die eindtelling in ‘n klipharde eindstryd was 40-29 in Eldoraigne se guns. Die oorwinning was ekstra soet, aangesien Noordheuwel die enigste span was wat die Eldo Drake in die ligafase van die toernooi kon klop.

In die proses het afrigters Johan du Toit en Dave du Plessis en hul troepe geskiedenis gemaak deur die eerste span van Eldoraigne te word om sukses te behaal in dié gesogte liga, wat dekades al deel is van skole-rugby noord van die Vaalrivier. Die 98-jaar oue toernooi was aanvanklik bekend as die Administrateursbeker, later die Direkteurstrofee en nog later die Beeldtrofee. Sedert vanjaar is Virseker die hoofborg en is die toernooi in nuwe, regverdiger afdelings ingedeel waar skole op ‘n krag-teen-krag basis meeding.

Eldoraigne het die gesogte Tuksreeks vir Makro skole in 2007 gewen, maar hul Virseker Beker sukses van 2018 is ‘n eerste in dié beroemde toernooi.

Hoewel die Eldo-manne Saterdag goed begin het in die winderige weersomstandighede, het Noordheuwel kliphard geveg en teen rustyd was daar slegs ses punte verskil (25-19) tussen die twee spanne.

Sake kon wel anders gelyk het, aangesien Eldoraigne twee geelkaarte in die eerste helfte moes oorleef, terwyl té veel ongedwonge foute ook aan die Wesranders die geleentheid gebied het om telkens terug te kom op die telbord.

Selfs ‘n derde – effens omstrede – geelkaart in die tweede helfte kon die Eldo Drake nie stuit nie.

Die span se briljante heelagter, Shayne Bolton, het in dié helfte ook gewys waarom hy as ‘n toekomstige superster beskou word. Hy het die Noordheuwel spelers gereeld met groot gemak op die aanval geklop en self twee keer gaan druk, terwyl hy ook ‘n aandeel in ‘n paar ander drieë gehad het.

Ook die Eldo Drake se pak voorspelers het hul teenstanders regdeur goed vasgevat met die woelige slot, Wickus van der Merwe, wat sy hart uitgespeel het.

In die tweede skof het Eldoraigne die tempo van die wedstyd opgejaag en minder foute gemaak, wat hulle in staat gestel het om die oorwinning te beklink.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button