Sinoville Krieketklub maak gereed vir nog ‘n groot seisoen
Op die vooraand van die nuwe krieketseisoen bied Sinoville Krieketklub op Saterdag 25 Augustus ‘n interessante gholfdag op die klub se terrein aan.

Met die nuwe krieketseisoen wat eersdaags begin is een van Pretoria se beste krieketklubs ook reeds besig om hul vere reg te skud vir die aksie.
Die Sinoville Krieketklub is vanjaar 36 jaar oud (gestig in 1982) en oor die jare is hierdie klub gevestig as een van die uitstaande klubs onder die jursidiksie van Northerns Cricket.
Sedert sy stigting was Sinoville Krieketklub ‘n bakermat vir dié gewilde sport in die noorde van Pretoria. Die klub is onlangs vir drie jaar agtereenvolgens aangewys as die Titans se ‘Club of Excellence’, terwyl Sinoville ook sedert die 2015/2016 vir drie seisoene agtereenvolgens deur Northerns se skeidsregters as hul Klub van die Jaar aangewys is.
Aangesien die klub se fasiliteite met die bestes in die land kan meeding, kon dit reeds by verskeie geleenthede gasheer speel vir belangrike wedstryde – selfs waar internasionale spanne betrokke was.
So byvoorbeeld het ‘n wedstryd tussen die vrouespanne van Australië en Engeland al op dié klub se veld plaasgevind. Verskeie ander toernooie, wat insluit die Community Cup, Nasionale week vir Dowe Krieket en wedstryde in die nasionale Klubkampioenskap word op gereelde basis by Sinoville aangebied.
Deesdae beskik die klub oor vier spanne in die senior ligas vir mans. Dit sluit in Northerns se Premierliga, Reserweliga, Tweedeliga en Derdeliga.
Die klub spog ook met ’n vrouespan wat in die Premierliga vir vroue speel en wat in die afgelope 2017/2018 seisoen weer die wenners van hierdie liga was.
Drie nasionale vrouespelers in die huidige Protea vrouespan het as klubspelers by Sinoville die spel leer speel. Hulle is die voormalige kaptein, Mignon du Preez, Sunette Luus wat verlede seisoen as die nasional vrouespeler van die jaar aangewys is en die jong Nadine de Klerk wat tans groot naam maak op die internasionale front.
Sinoville is ook op die voorgrond van die ontwikkeling van junior talent en beskik oor verskeie junior spanne (o.9, o.11, o.13 en o.15) wat jaarliks goeie rekenskap van hulself gee in Northerns Cricket se junior ligas.
As deel van hul voorbereiding vir die nuwe seisoen én in ‘n poging om die gemeenskap by die klub te betrek bied Sinoville Krieketklub op Saterdag 25 Augustus ’n unieke gholfdag op die klub se terrein aan. Gholfputjies sal op die krieketveld ingerig word en deelnemers se kortspel met ‘n gholfstok in die hand sal deeglik getoets word.
Hierdie sosiale geleentheid word as gesinsdag aangebied en die hele gesin is welkom om te kom deel in die pret.
Belangstellendes kan Henk Vorster skakel by 071-579-5987 of epos adres henevorster@gmail.com
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

